GOD SE OFFERWETTE ~ 01 (Inleiding)

GOD SE OFFERWETTE ~ 01 (Inleiding)

1. INLEIDING:
Die Heidelbergse Kategismus (Sondag III) verklaar ondubbelsinnig dat die mens boos gebore word – vraag 8 vra: Maar is ons so verdorwe dat ons heeltemal onbekwaam is tot enige goed en geneig tot alle kwaad? En die antwoord: Ja, tensy ons deur die Gees van God wedergebore word.

Die SOLA 5 Geloofsbelydenis, stel dit as volg: Adam and Eve wilfully and freely broke God’s commandment. By so doing they lost their original righteousness and communication with God. En die Baptiste Geloofsbelydenis van 1689 stel dit in hoofstuk 6 as volg: Alhoewel God die mens opreg en volmaak geskape het, en hom ook ’n regverdige wet gegee het wat tot die lewe sou lei indien hy dit nagekom het, en die dood voorgehou het met die oortreding daarvan, het die mens nogtans nie lank in hierdie staat bly leef nie. Satan het die subtiliteit van die slang gebruik om Eva te onderwerp en gevolglik het sy Adam verlei sodat hy sonder enige dwang gewilliglik die skeppingswet oortree het en die bevel wat aan hulle gegee is om nie die verbode vrug te eet nie. Dit het God egter behaag om volgens Sy wyse en heilige raad hierdie gebeurtenis toe te laat, aangesien Hy Hom reeds voorgeneem het om dit te skik tot Sy verheerliking (punt 1).

Die mens is en word boos gebore – verlore, verdoem, afgesny van God en op pad hel toe! Alle kontak met die lewende en heilige God is dus afgesny – vir ewig! MAAR….. en dit is hierdie “maar” wat ek wil hê dat ons van nader moet bekyk.

God was genadig en vol medelye vir die menseras, deurdat Hy ’n “ontsnaproete” vir die mens moontlik gemaak het, ten einde weer in Sy teenwoordigheid te kan staan en gemeenskap met Hom te kan hê.

Een van die belangrikste boeke in die ganse Bybel, beskryf hierdie “plan van God’ vir ons haarfyn en is dit dus uiters belangrik om hierna te kyk. Hierdie boek is praktiese teologie op sy beste.

Die openingswoord van hierdie boek sê vir ons ’n mondvol – die oorspronklike woord is, wayyiqra’, wat in Engels beteken: “and he called”. Die N.A.V. begin hierdie boek as volg en dit is ’n verklaring van hierdie woord: Die Here het vir Moses geroep… – kom ons lees dit saam, asook die res van die eerste hoofstuk van die boek.

2. SKRIFLESING:
Lev.1:1-17 ~ Die Here het vir Moses geroep en uit die tent van ontmoeting vir hom gesê: 2 “Praat met die Israeliete en sê vir hulle: Wanneer een van julle vir die Here ’n offer wil aanbied, kan hy dit aanbied uit sy beeste of uit sy kleinvee.
3 “As dit ’n brandoffer uit die beeste is, bied die man ’n bul aan sonder liggaamsgebrek. Hy bied dit aan by die ingang van die tent van ontmoeting sodat dit vir die Here aanneemlik sal wees. 4 Daarna sit hy sy hand op die offerdier se kop sodat dit aanvaar sal word as versoening vir hom. 5 Dan slag hy die bul daar in die teenwoordigheid van die Here, en die Aäronitiese priesters bring die bloed en sprinkel dit rondom teen die altaar by die ingang van die tent van ontmoeting. 6 Die man slag die offerdier af en sny dit in stukke op. 7 Die Aäronitiese priesters maak dan vuur op die altaar en sit hout op die vuur. 8 Dan sit hulle die stukke vleis, die kop en die niervet op die hout op die altaarvuur. 9 Die man was die binnegoed en die pote af, en ’n priester verbrand alles op die altaar. Dit is die brandoffer, ’n vuuroffer wat deur die Here aanvaar word. 10 “As dit ’n offer uit die kleinvee is, ’n brandoffer uit die skape of bokke, bied die man ’n ram aan sonder liggaamsgebrek. 11 Hy slag die dier daar in die teenwoordigheid van die Here, aan die noordekant van die altaar, en die Aäronitiese priesters sprinkel die bloed rondom teen die altaar. 12 Dan sny die man die offerdier in stukke op, en die priesters sit die stukke vleis, die kop en die niervet op die hout op die altaarvuur. 13 Die man was die binnegoed en die pote af, en die priester bring alles op die altaar en verbrand dit. Dit is die brandoffer, ’n vuuroffer wat deur die Here aanvaar word. 14 “As dit ’n brandoffer van voëls is wat iemand vir die Here wil offer, bied hy ’n tortelduif of ’n ander duif aan. 15 Die priester bring dit op die altaar, knyp die kop af en verbrand dit op die altaar. Die bloed word eers teen die kante van die altaar uitgedruk; 16 dan verwyder die priester die krop en die vere en gooi dit langs die altaar aan die oostekant op die plek vir die as, 17 en nadat hy die duif tussen die vlerke oopgeskeur het sonder om dit heeltemal middeldeur te skeur, verbrand hy dit in die vuur op die altaar. Dit is die brandoffer, ’n vuuroffer wat deur die Here aanvaar word.”

3. AGTERGROND:
Ons sien dus hier, dat hierdie gesprek, direk van God self gekom het en dit was woorde, of dan opdragte wat die volk van Israel vertel en verduidelik hoe hulle moes lewe en God aanbid – hierdie opdragte, was dus opdragte om aan die volk te verduidelik hoe hulle heilige lewens moes lei.

Dit is vir ons as Nuwe Testamentiese gelowiges uiters belangrik om nie net kennis te neem van hierdie opdragte nie, maar ook om kennis te neem en te verstaan wat God se wil daarmee was en wat die ewige aard en betekenis daarvan was, want dit verskaf aan ons ’n duidelike beeld van die progressiewe ontvouing van God se verslossingsplan regdeur die Ou Testament en hoe hierdie verslossingsplan uiteindelik in Christus Jesus se soendood aan die kruis op Golgota vervul is en hoe dit wasdom bereik in die Nuwe Testamentiese leerstellinge van verlossing, heiligmaking en verheerliking.

Die volk van God het geweet dat hulle verbond met God ’n voorspoedige en gelukkige een sou wees, indien hulle hul geloof in God in stand hou en streng volgens die Wet sou optree. Indien die volk egter hul rug op God en die Wet sou draai, deur ongehoorsaam en ongelowig te wees en vreemde gode begin aanbid en vreemde gewoontes en gebruike sou begin navolg, sou God se beloftes aan hulle op die spel wees. Die Wet was dus só ontwerp en saamgestel, dat dit vir hulle moontlik sou wees om dit te kon nakom en sodoende ’n behoorlike verhouding met God te kon handhaaf en dat hulle in ruil daarvoor ’n heilige volk sou wees.

Vir ons as gelowiges is dit baie belangrik om ’n deeglike begrip te hê van hierdie wette en die teologie van de Ou Testament, omdat die Nuwe Testament baie swaar rus op veral die boek Levitikus. So aanvaar groot dele van die Evangelies, ens. dat ons as lesers oor ’n deeglike kennis van Levitikus beskik – gedeeltes bv. wat handel oor reiniging na die geboorte van ’n kind, of hulpverlening aan iemand met melaatsheid, ens. Hierdie is alles gedeeltes wat daarop dui dat ’n kennis van Levitikus ’n gegewe is. Ander boeke soos Romeine, Hebreërs en die briewe van Petrus wys bv. daarop dat Levitikus in baie opsigte dien as fondasie vir die Evangelie.

Die mense van die eerste eeu na Christus het presies geweet wat bedoel word wanneer daar gepraat is van bv. offerandes (“sacrifices”/”offerings”), of “versoening” (“atonement”); reiniging (“purification”); toewyding (“consecration”), rein en onrein (“clean/unclean”), heilig en onheilig (“holy/unholy”) ens., want dit was bekende praktyke en begrippe vir die eerste gelowiges, omdat die meeste van hulle uit die Jodedom gekom het, waar hierdie praktyke en begrippe uit Levitikus, sentraal in die lewe van die Jode gestaan het.

Wat die Ou Testamentiese Israel in baie opsigte beter verstaan het, was die betekenis en inhoud van hierdie verlossingsplan van God, maar die voorreg wat hulle egter nooit gehad het nie, was om die uiteindelike en finale openbaring en volvoering van God se verlossingsplan te kon sien en ervaar nie – ’n onuitspreeklike voorreg wat ons as Nuwe Testamentiese gelowiges wel ontvang het, maar wat baie van ons dalk nie aldag volkome verstaan en selfs waardeer nie! Ongelukkig het ook die meeste van die destydse Jode nie die woorde van Hebr.1:1-3 verstaan nie ~ In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, 2maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak. 3Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel. Die meeste Jode het nie verstaan dat God Sy Seun, Jesus gestuur het om eens en vir altyd klaar te speel met die volk se sonde, deur Sy kosbare bloed aan die kruis te laat vloei het en sodoende die volmaakte en volledige offer te bring wat God die Vader eens en vir altyd tevrede sou stel nie.

Die Ou Testamentiese metodes en prosesse van uiterlike reiniging, d.m.v. allerlei offerandes en rituele, het dus uiteindelike heiligheid as doelwit nagejaag, juis omdat God self heilig is en ’n heilige lewe vereis van almal wat Hom nader. Ons moet verstaan dat die Ou Testamentiese offersisteem, ens. vooruit gewys het na en hul vervulling gevind het in die volmaakte, gebreklose, sondelose en derhalwe, heilige Lam van God.

Die Wet was dus alles deel van God se plan om die mense van Israel wat deur God self gekies was om ’n heilige volk vir Hom te wees, te rig en te lei. God het self aan Moses in Eks.19:5-6 gesê ~ As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ’n koninkryk wat My as priesters dien, en ’n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My. Die Wet moes die volk dus help om ’n gewyde nasie vir God te wees. Hulle moes dus ’n nasie wees wat heeltemal anders was as die nasies rondom hulle, want slegs indien hulle opsygesit was (geheilig is), kon hulle medewerkers gewees het in God se plan om verlossing vir alle nasies te bring.

Hierdie reëls en regulasies en wette van God was egter so wonderlik en vol genade, dat indien die volk sou oortree, hulle die verhouding tussen hulle en God kon regstel, d.m.v. hierdie selfde rituele en offerandes.

4. GOD SE PLAN MET SY VOLK:
Dit is ook belangrik dat ons net kortliks na ’n oorsig sal kyk van hoe God se plan met Sy volk deur die geskiedenis ontvou het:
• In Gen.1-11 skep God ’n volmaak en sondelose heelal, asook die rebellie van die eerste mens (Adam), asook God se oordeel oor die mensdom in Adam. Dan sien ons ook God se regstellende aksie om Sy seën wat op die skepping gerus het en wat deur Adam verongeluk is, te herstel.
• In Gen.12-50 sien ons die aanvang van God se regstellende optrede en wel in die vorm van Sy verbond met Abraham, deur die geboorte van Isak as eersteling van Abraham se nageslag, wat natuurlik deel was van God se belofte aan Abraham, nl. ’n groot nageslag. Ons sien egter ook die begin van Israel as volk tydens hul verblyf in Egipte.
• In Eks.1-18 word God se volk se verlossing uit die Egiptiese slawehuis beskryf. Die volk begin God se heerlikheid aanskou en ervaar, sodat hulle God as hulle God kon vrees en liefhê.
• Eks.19-Num.10 beskryf vir ons in die fynste besonderhede die voorskrifte wat gegee is vir die bou van die tabernakel, sodat God in hulle teenwoordigheid kon wees, asook gedetailleerde opdragte oor hoe die volk voortgesette gemeenskap met God kon geniet en in stand hou.
• En dan in Num.11-36 vind ons die res van die verhaal van Israel se omswerwinge in die woestyn.
• Deuteronomium is ’n weergawe van Moses se preke oor die Wet.
• En dan uiteindelik vind ons in Josua, die vestiging van die volk in Kanaän.

5. DIE GOD WAT MET MOSES PRAAT:
Kom ons keer terug na ons Skriflesing en ons probeer vasstel wie die God is wat met Moses gepraat het, toe Hy gesê het ~ Praat met die Israeliete en sê vir hulle: Wanneer een van julle vir die Here ’n offer wil aanbied, kan hy dit aanbied uit sy beeste of uit sy kleinvee…?
• Eerstens is God ’n heilige God. Hierdie eienskap van God is dan ook die kruks van die Levitikusboek. Die heiligheid van God word nooit pertinent in die boek uitgelig nie, maar dit word deurgaans veronderstel, veral in die oproepe tot heiligheid aan die kant van die volk wanneer hulle God aanbid. Ook word dit veronderstel omdat God geen veranderinge aan die rituele toegelaat het nie, omdat dit heilige rituele was – heilig, omdat Hy dit ingestel het. Deurgaans deur die boek word die volk daaraan herinner dat God heilig is en dat Sy heiligheid, die standaard is.
• Tweedens is die God wat met Moses praat, ’n ewige en lewende God. In teenstelling met die heidense gode, is God heilig en ewig lewend en die feit dat Hy lewe, spruit uit die feit dat Hy met Sy volk praat – fisies praat!
• Derdens is hierdie God, ’n persoonlike God. Hy openbaar Homself dan ook as ’n persoonlike God, deurdat Hy ’n persoonlike naam het, nl. Here (Jahweh).
• Hy is ’n almagtige God. Die feit dat Hy in staat is om sonde te vergewe is tekenend daarvan dat Hy ’n almagtige God is. Ons sien hierdie feit ook deurgaans deur die Ou Testament hoe dat Hy “God-alleen” die Egiptenare oorwin; oor die natuur heers, ens.
• Hierdie God wat met Moses praat, is ’n regverdige God, wat oordeel oor sonde.
• Hy is ’n soewereine God, want Hy heers oor alles en almal. Hy was daartoe in staat om Israel te kon uitkies as volk om Hom te dien. Hy heers oor die ganse skepping, deurdat Hy reën gegee het, sowel as droogtes, ens.
• Hy is genadig en goed. Die ganse offersisteem wat God ingestel het spreek van genade op genade, want dit bied feilbare, sondige en afkerige mense die geleentheid om terug te keer na God.
• Laastens sien ons dat die God wat met Moses praat, ’n jaloerse God is. Van die begin af sien ons dat God geen ander gode, of ander aanbiddingspraktyke toelaat nie. God het absolute lojaliteit en getrouheid aan Hom en Hom alleen vereis.

6. DIE MENSE AAN WIE GOD DIE OPDRAGTE GEE:
Kom ons kyk net kortliks ook na die mense aan wie God hierdie opdrag(te) in Levitikus gee:
• Hulle is volk van God. God kies hulle uit om Sy volk te wees – geen ander volk geniet hierdie voorreg nie. Dit is van hierdie uitverkorenes dat God absolute trou en aanbidding vereis.
• Hierdie mense is ’n heilige volk. Ons het netnou reeds in Eks.19:6 gesien dat God sê dat Hy hierdie volk uitkies om vir Hom ’n koninkryk van priesters te wees – ’n heilige nasie. Om hierdie “etiket” te verdien, moes die Israeliete in God glo en gehoorsaam aan Hom wees.
• Hulle was net mense – mense soos Adam wat uit stof geformeer was, maar ook sterflik. Hulle was die tydelike tuiste van die gees en lewe wat God aan hulle geskenk het.
• Hulle was ’n gemeenskap van gelowiges. Diegene wat waarlik deel kan en mag hê aan God se verbondsbeloftes, is hulle wat in Hom glo – hulle moet ’n opregte geloof en gehoorsaamheid aan God openbaar.

7. GOD SE GODSDIENSSISTEEM:
Die doel met Israel se godsdienssisteem was om ’n lewende en opregte geloof teenoor God Drie-enig te versinnebeeld. Dit beteken dat alle uitwendige vorms van godsdiens, simboliese betekenis en waarde gehad het en die bepaalde ritueel, was die wyse waardeur die mense wat deelgeneem het aan die ritueel, God kon ervaar.

Ons moet ook in gedagte hou dat fisiese handelinge en die geestelike betekenis nie van mekaar geskei kan word nie, want die fisiese handeling was deur God gesien as heilig en hierdie handelinge het verskillende vorms aangeneem – so was daar bv. die opstuur van ’n offer in die vorm van rook; om jouself neer te werp op die grond; die was met reinigingwater, ens.

Daar was ook plekke wat as heilig beskou was. Dit was veral plekke waar God Homself op besondere wyse aan die volk of individue geopenbaar het. Die primêr heilige plek was egter die ark van die verbond – later was dit die tabernakel en nog later, die tempel, en dit het die teenwoordigheid van God in die midde van die volk gesimboliseer.

Heilige voorwerpe het ook voorgekom in die godsdienssisteem van die Israeliete. Die tent waarin die verbondsark gehuisves was, is as heilig beskou. Daar was ook talle ander heilige voorwerpe in die heiligdom van die tabernakel – bv. die altaar, die waskom, die lampstaander, die lamp, die tafel, die voorhangsel (gordyn) en talle instrumente wat in die offerprosesse gebruik is.

Ook was daar heilige seisoene (waarna ons die afgelope klompie weke gekyk het), bv. die Sabbat; Die Pasga; die Fees van die Ongesuurde Brode; die Fees van die Weke (Pinksterfees); die Fees van die Basuine; Die Groot Versoendag; die Fees van die Tabernakels en dan was daar ook die Sabbatsjaar en die Jubeljaar.

Die eerste klompie hoofstukke van Levitikus handel oor offerandes en in die meeste gevalle is kos daarby betrokke. Baie van hierdie kos was dan ook die hoof voedselbron vir die priesters en sommige van hierdie geofferde kos was deur van die aanbidders geëet – in sommige gevalle dalk die enigste geleenthede dat hulle vleis geëet het. Ons moet net besef dat die idee met die offer van kos en in die besonder vleis, nie deur die Israeliete gesien is as ’n poging om aan God kos te voorsien nie – hulle kennis van God was beslis nie so verdraaid en beperk nie – daaroor is Ps.50:12-14 ook heeltemal te duidelik ~ Ek (dit is God wat hier praat) sou jou nie vra as Ek honger sou kry nie, want die aarde en alles wat daarop is, behoort aan My. 13Eet Ek miskien die vleis van die bulle wat julle offer, of drink Ek die bloed van bokke? 14Lof is die offer wat jy aan God moet bring. Betaal jou geloftes aan die Allerhoogste. Deur allerlei soorte kos en vloeistowwe aan God te offer, het die Israeliete erkenning verleen aan God dat Hy die enigste Gewer van lewe is en alles wat uit die lewe spruit en dat hulle hulself aan Hom alleen as God onderwerp. Wanneer die offer deur die priester geëet is, was dit ’n teken dat die offer deur God aanvaar is en wanneer dit deur die gemeente geëet is, was dit simbool van hulle onderlinge gemeenskap met God.

Die volk kon alleen vrede met God ervaar het, deur ’n daad van versoening. Die woord wat hier gebruik word is “kipper” en die basiese betekenis hiervoor is “om te bedek”, of “om toe te maak”, of “om tevrede te stel”, of “te paai”. Hierdie woord word bv. gebruik in Gen.32:20 waar Jakob ’n geskenk van 550 diere aan sy broer Esau stuur toe Esau gedreig het om Jakob dood te maak, omdat hy wat Jakob is, Esau se seën “gesteel” het. Jakob doen dit ten einde sy oortreding “toe te maak” en Esau daarmee “tevrede te stel” – Jakob sê in v.20 ~ …met die geskenk wat voor my uit gaan, sal ek probeer om hom te (“kipper”) in ’n goeie bui te kry (sien ook Num.25:13; Ps.78:38; 79:9). Paulus gebruik hierdie selfde woord in sy Griekse vorm in Rom.3:25 wanneer hy van Jesus sê ~ Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo.

Daar was dan allerlei reinigingsrites (purity rites) en toewydingsrituele (consecration rites) wat uitgevoer moes word wanneer mense onrein (“defile”) geraak het.

Laastens, in hierdie godsdienssisteem van die Israeliete, was die priesters. Die priesters was die tussengangers tussen God en die volk. Die heel eerste tussenganger was Moses en kan beskou word as die menslike stigter van die godsdienssisteem van Israel. Moses was uniek in dié opsig, dat hy nie alleen die posisie van leier van die volk Israel beklee het nie, maar hy het nie ’n tussenganger tussen homself en God nodig gehad nie, want God het direk met hom gepraat (bv. Eks.3:4-15; 19:20-24, ens.). Moses se taak was om ’n heilige volk vir God tot stand te bring, in wie se midde God kon wees en deur wie Sy goddelike genade en vrede kon vloei na alle nasies.

Die priesters was afgesonder om offerandes namens die volk aan God te bring en allerlei ander heilige (“consecrated”) dienste te verrig. Priesters en hulle families het baie voorregte geniet, maar hulle het terselfdertyd ’n baie belangrike funksie vervul en hulle moes die voorskrifte wat daarmee gepaard gegaan het, nougeset uitvoer en ’n onkreukbare voorbeeld vir die volk voorgehou het – hulle moes tog immers God se heiligheid aan die volk voorhou (sien Lev.10 vir die oordeel wat gevolg het op die eerste ongehoorsaamheid van priesters).

Net die priesters was toegelaat om binne in die tent van die tabernakel te gaan (die heilige) en net die hoë priester kon een maal per jaar die allerheiligste (“holy of holies”) binne gegaan om versoening (“kipper”) vir die volk se sonde te gaan doen.

8. AFSLUITING:
Al hierdie reëlings wat ingestel was, het maar net aangetoon watter gaping daar tussen die volk en God bestaan het, a.g.v. sonde in die lewe van die volk. Maar God het uit genade weer nader beweeg aan die volk en Sy teenwoordigheid in hul midde begin vestig en Sy vrede aan almal gebied – die proses om Adam se nasate egter terug te trek na God was nog ver van afgehandel, maar God het deur hierdie godsdienssisteem van die Israeliete weer ’n verhouding begin opbou tussen Hom en Sy skepsele. ’n Uiteindelike en finale “Kipper” sou egter nodig wees om die verwydering wat Adam bewerkstellig het deur sy ongehoorsaamheid, te oorbrug en finaal uit te wis deur die bring van ’n volmaakte offer sonder enige gebrek en daarvoor sou God Sy enigste Seun Jesus Christus moes stuur – maar eers heelwat later.

Ons het dan kortliks gekyk na:
• God se plan met Sy volk;
• Wie die God was wat met Moses gepraat het;
• Wie die mense was aan wie God Sy offerwette gegee het;
• Die doel met God se godsdienssisteem en enkele dinge en plekke wat as heilig beskou was;
• Die betekenis van die woord “kipper”, nl. om “te bedek”.

Ons sal D.V. volgende keer begin kyk na die offerwette wat God vir die volk ingestel het en hoe hierdie offerwette uiteindelik deur Jesus Christus vervul is en wat dit vir ons as Nuwe Testamentiese gelowiges inhou.

Post a comment