Die Sendbrief aan die Romeine – 11 (“Adam versus Christus”)

Die Sendbrief aan die Romeine – 11 (“Adam versus Christus”)
Deel 1 – “Regverdigmaking deur Geloof Alleen” (Hoofstukke 1-8)

1. INLEIDING:
Ons lees die volgende in Gen.1:31 ~ “Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die sesde dag.” Wanneer die aarde, soos wat dit vandag daaruit sien, vergelyk word met hoe die aarde daar uitgesien het net nadat God dit geskep het, dan kan ons, onsself die vraag afvra, “wat het intussen met die wêreld gebeur?”

In die derde hoofstuk van Genesis swyg God ook nie oor wat gebeur het nie. Hier beskryf die Here in detail hoe Adam en Eva in sonde geval het, nadat hulle na die slang (die duiwel) geluister en van die verbode vrug geëet het (Gen.3:1). Sonde het die wêreld binnegekom deur Adam en Eva se ongehoorsaamheid en dít het die wêreld en alles daarop, in ’n oogwink verander. M.a.w. die rede vir die verval in die wêreld is rebellie teen God.

Die derde hoofstuk van Genesis is waarskynlik een van die belangrikste hoofstukke in die ganse Bybel. Hierdie hoofstuk het ingrypende implikasies vir ons lewe vandag en verskaf aan ons redes waarom God genadiglik moes ingryp t.w.v. ons. Hier vind ons alreeds duidelike aanduidings van die noodsaak en intense behoefte aan ’n Verlosser en waarom ’n nuwe skepping nodig is. Dit is presies waaroor Paulus in Rom.3:12-21 praat, wanneer hy in detail die verskil tussen Adam en Christus Jesus beskryf.

2. SKRIFLESING:
Rom.5:12-21 (NAV) ~ “12Verder nog dít: Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het. 13Die sonde was al in die wêreld nog voordat die wet van Moses gegee is, maar sonde word nie toegereken as daar nie ’n wet is nie. 14Nietemin het die dood heerskappy gevoer van Adam af tot by Moses, ook oor mense wat nie gesondig het op dieselfde manier as dié waarop Adam oortree het nie. Daar is ooreenkoms tussen Adam en Hom wat sou kom, 15maar met die genadegawe is dit anders as met die oortreding. Deur die oortreding van een mens het baie gesterf, maar die genade van God en die gawe wat deur die genade van die een Mens, Jesus Christus, gekom het, is veel oorvloediger aan baie geskenk. 16En met die gawe van God is dit anders as met die sonde van die een mens. Op die oortreding van die een mens het die oordeel gevolg en dit het tot veroordeling gelei, maar op die baie oortredings het die genadegawe gevolg en dit het tot vryspraak gelei. 17Deur die oortreding van die een mens het die dood begin heerskappy voer deur hierdie een mens, maar deur die Een, Jesus Christus, is veel meer bereik: dié wat die oorvloed van genade en die vryspraak as gawe ontvang het, sal lewe en heerskappy voer. 18Soos een oortreding gelei het tot veroordeling vir alle mense, so het een daad van gehoorsaamheid dus ook gelei tot vryspraak en lewe vir almal. 19Soos baie deur die ongehoorsaamheid van een mens sondaars geword het, so ook sal baie deur die gehoorsaamheid van die een Mens vrygespreek word. 20Die wet het bygekom om die oortredinge nog meer te maak; en hoe meer die sonde geword het, hoe oorvloediger het die genade geword. 21Die doel was dat, soos die sonde deur die dood heerskappy gevoer het, die genade deur die vryspraak ook heerskappy kan voer en tot die ewige lewe kan lei deur Jesus Christus ons Here.”

3. EEN MENS SONDIG – ALMAL STERF (vv.12-14):
Wanneer ons na Gen.3 kyk sien ons baie duidelik dat dit die satan en nie Adam was wat die bron van sonde is nie, maar soos wat Paulus dit ook in Rom.5:12-14 noem, het die saad van sonde in Adam ontkiem en volle wasdom gevind. Hy het ’n baie duidelike opdrag van God ontvang en was vry én by magte om die opdrag te gehoorsaam. Maar ten spyte van die feit dat hy geweet het wat die gevolge van ongehoorsaamheid sou wees, het hy voortgegaan en in ongehoorsaamheid op die satan se uitdaging gereageer. Wat was die gevolg van sy ongehoorsaamheid? Die dood! Nie net die dood van Adam nie, maar van die ganse menseras. Dit is waarom Paulus in v.12 sê ~ “Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het.”

Ons moet daarop let dat die “dood” waarvan Paulus hier praat, veel meer omsluit as bloot net die skeiding van siel en liggaam (die fisiese dood); dit verwys ook na ’n geestelike- en ewige dood wat die gevolg is van sonde.

Die bewys van hierdie feit lê opgesluit in vv.13-14. Hier word geargumenteer dat…:
• Omdat sonde die oortreding van ’n wet behels, kan daar geen sonde of sondeskuld wees as daar nie wetsverbreking plaasvind nie (v.13).
• Omdat die dood, wat die gevolg van sonde is (v.12), heers oor almal wat van Adam tot Moses geleef het (suigelinge ingesluit), impliseer dit, dat almal skuldig was aan die oortreding van een of ander wet (v.14).
– Die feit dat dood universeel was (van Adam tot Moses) kan nie toegedig word aan die Wet van Moses (die Tien Gebooie) nie.
– Die feit dat dood universeel was kan ook nie toegeskryf word aan die feit dat die mens die wet wat op sy hart geskryf staan, oortree het nie (2:12-16), want suigelinge kan nie ’n wet verbreek nie en tog was ook suigelinge onderworpe aan die dood (5:14).

In kort dus: Die mens staan skuldig voor God, nié omdat hy ’n “kliptafel wet,” óf ’n “hartswet” oortree het nie, maar omdat Adam oortree het.

Omdat alle mense dus beskou was as skuldig voor God en veroordeel was om te sterf (ook diegene wie nie die wet fisies kon oortree nie), word alle mense, op grond van Adam se sonde (Adam se sonde was dus toegereken – “imputed sin”) as sondaars en as skuldig beskou. Die idee van Adam se sonde wat toegereken word aan die mensdom, word kort-kort beklemtoon in vv.15-19:
• V.15 ~ “Deur die oortreding van een mens het baie gesterf.”
• V.16 ~ “Op die oortreding van die een mens het die oordeel gevolg.”
• V.17 ~ “Deur die oortreding van die een mens het die dood begin heerskappy voer.”
• V.18 ~ “Soos een oortreding gelei het tot veroordeling vir alle mense.”
• V.19 ~ “Soos baie deur die ongehoorsaamheid van een mens sondaars geword het.”

Net weer: Die punt wat Paulus hier wil maak, is dat alle mense skuldig staan voor God a.g.v. een mens se sonde en nie primêr a.g.v. ’n klomp sondes nie.

Ten einde die eerste deel van ons Skriflesing van vanoggend op te som, sien ons dat die hoofpunt hier, handel oor een gebeurtenis met drie gevolge wat daaruit voortgevloei het en die gebeurtenis was dat ~ “sonde in die wêreld gekom (het).” Die eerste mens (“Adam” wat “man” in Hebreeus beteken) het gesondig en toe hy gesondig het, het hy nie net iets verkeerd gedoen nie. Hy was die deurgang van ’n verslawende mag wat heerskappy voer (5:21; 6:13-14) en wat gedien en gehoorsaam word deur die mensdom (6:16-17). Dit is die paradoks van sonde, of die verskil t.o.v. sonde: Adam het gedink hy is in beheer, maar in werklikheid het hy beheer oorgegee aan ’n “slawe-meester” (Satan).
• Alle mense geestelik dood: Die eerste en onmiddellike gevolg van die sondeval, was dat dood deur sonde in die wêreld gekom het. God het gedoen wat Hy in Gen.2:17 gesê het Hy sal doen ~ “Die dag as jy daarvan eet, sterf jy.” Adam het geestelik gesterf, die oomblik wat hy uit die Tuin van Eden en gevolglik uit die teenwoordigheid van God gedryf is en uiteindelik het hy ook fisies gesterf.
• Alle mense het gesondig: Omdat die eerste Adam gesondig het, word alle mense gereken as sondaars. Adam se sonde is ons toegereken. Adam is die hoof van die natuurlike mensheid en wat van hom waar is, is ook van ons waar. Dit sluit ook die waarheid in dat ons sondig omdat ons ook Adam se sondige aard- of geneigdheid geërf het. Ons het derhalwe sondaars geword (v.19). Hierdie is die grondslag vir die “Leer van die Erfsonde.”
• Alle mense onderworpe aan die dood: Omdat Adam gesondig het, is alle mense nou onderwerp aan die dood. Adam het gesondig; Adam sterf. Die res van die mensdom sondig; die res van die mensdom sterf.

4. DIE KONTRAS: ADAM EN CHRISTUS (vv.15-19):
In v.14b word Adam gesien as ’n tipe van Christus – dié Een wat sou kom en as Verlosser sou optree. Hoe kon Adam ’n tipe van Christus wees? Hoe kan Adam, wat as die vader van sonde beskou word, enigsins vergelyk word met die heilige en sondelose Christus? Hoe kan daar ooit ’n ooreenkoms wees? Wel, daar is tog ’n ooreenkoms. Net soos wat dit waar is dat Adam dít wat deel was van hom, die res van die samelewing toegereken het, net so het Christus Sy liefde en genade toegereken aan diegene wie aan Hóm behoort. Dit is in hierdie opsig dat Adam ’n vooruit-weerspieëling is van Christus wat sou kom – vir die res is die parallel egter een van kontras, ’n feit wat die apostel in vv.15-21 baie duidelik beklemtoon.

Nie alleen is die optrede van beide Adam en Christus twee radikaal teenoorgesteldes nie, maar die genadewerk van Christus is radikaal die teenoorgestelde en veel-veel groter as die sonde en oordeel wat Adam verteenwoordig.

• Optrede (v.15): Ons vind die eerste punt van kontras of verskil tussen Adam en Christus, in v.15 en dit word duidelik aangetoon deur die gratis geskenk van Christus en die oortreding van Adam.

Paulus wil hê dat ons sal weet dat Christus se optrede verder gegaan het as dié van Adam. Adam het eenkeer gesondig en almal het gesterf. Christus het eenkeer gesterf en Sy dood het nie net een sonde wat eenkeer begaan is, gereinig nie, maar vir baie meer sonde – vir alle sonde. M.a.w. ~ “…en hoe meer die sonde geword het, hoe oorvloediger het die genade geword” (Rom.5:20). Die oplossing was derhalwe groter as die “siekte.” Dit het ’n veel-veel groter omvang en impak gehad. Die gevolg van Christus se optrede is onberekenbaar groter as die gevolg van Adam se sondige optrede. Die dood van Christus reinig ons van al ons sonde. Dit kan as volg opgesom word: Een mens het gesondig (Adam) en alle mense sterf (die mensdom). ’n Ander Een sterf (Jesus), sodat almal kan leef (die verlostes).

Die praktiese implikasie en waarheid van Rom.5:15 is dat die mag van sonde (wat die dood is) gebreek kan word, maar die krag van Christus wat verlossing en redding tot gevolg het, kan nie verbreek word nie. In 2 Tim.1:10 sê Paulus vir Timoteus, dat Christus ~ “…die mag van die dood gebreek (het) en deur die evangelie die onverganklike lewe aan die lig gebring (het).”

Jesus Christus het die mag van die sonde en dood verbreek, maar die teenoorgestelde is nie waar nie – sonde en dood kan nie die krag en mag van die effek van Jesus Christus se kruisiging en opstanding verbreek nie – juis omdat Hy opgestaan het! Die oordeel oor Adam se sonde is derhalwe omkeerbaar, maar die verlossing van Christus kan nooit omgedraai of verander word nie. Die effek van Adam se optrede bly egter permanent deel van diegene wie nié in Hom glo en Hom aanbid en navolg nie. Ons beskik oor ’n geweldige stuk sekuriteit met die wete dat wanneer ons eenkeer in Jesus Christus ingeënt is, ons nooit weer uit Sy hand kan val nie (Rom.8:9, 30-39; Joh.3:3, 15; 14:17; Titus 3:5; 1Kor.12:13).
• Sonde en genade (v.16): In v.15 het Paulus gepraat van… ~ “…die oortreding van een mens,” terwyl v.16 praat van… ~ “…die sonde van die een mens,” m.a.w. die een wat oortree het. In die eerste geval gaan dit oor die sonde – die klem word dus op die oortreding geplaas, terwyl die klem in die tweede geval op die sondaar of oortreder val. Die basiese waarheid of -beginsel is egter presies dieselfde. Dit was die een sonde, deur een mens, op een gegewe oomblik in die geskiedenis, dat God Sy oordeel oor die wêreld gebring het. In Christus is daar egter oorvloedige en gratis genade uitgestort. Christus se mag om te red is onberekenbaar groter as die effek van Adam (en daarmee die satan) se mag om te vernietig en ons ontvang meer seën in Hom as wat ons verloor het deur die sondeval.

V.16 is baie duidelik daaroor dat God, sonde tot so ’n mate haat, dat net een oortreding – een sonde geneem het om die ganse menseras te veroordeel en uit Sy teenwoordigheid te verwyder. Dit is nie soseer dat Adam se eerste sonde erger was as ander sonde wat hy begaan het nie. Dit was bloot net omdat sy eerste sonde, sonde was. Op die stadium dat Adam die verbode vrug geëet het, was dit die enigste sonde wat Adam en Eva kon begaan, omdat God op daardie stadium slegs een beperking op hulle gelê het. Sou dit moontlik gewees het, sou enige ander sonde dieselfde effek gehad het. Op dieselfde wyse sou enige sonde wat enige mense later sou begaan het, genoeg gewees het om die totale menseras te veroordeel, net soos wat Adam se eerste sonde tot gevolg gehad het.

Die goeie nuus egter, is dat God se liefde vir sondaars veel-veel groter is as Sy haat vir sonde. Ten spyte van die feit dat God, sonde so intens haat, is Sy liefdevolle genade só omvangryk dat dit nie net ’n lewens veranderde effek op een mens se enkele sonde het nie, maar dit het die redding en vergifnis beskikbaar vir alle mense, ongeag die hoeveelheid en intensiteit van sonde. Jesus Christus het al die sonde van die ganse wêreld op Hom geneem ~ “Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou” (2 Kor.5:19).
• Doeltreffendheid (v.17): Die woord “doeltreffendheid” kan die derde kontras of verskil tussen die werk van Adam en die werk van Christus opsom. John Stott het die volgende oor v.17 gesê ~ “It is not simply that the reign of death is suprseded by a reign of life, for it is not life which reigns, but we who are said to ‘reign in life.’”

Ons sien in v.17 dat sonde vantevore ons koning was. Die dood het oor ons geheers en ons was die dood se ondergeskiktes. Die oomblik egter, toe ons verlos is van die oorheersing van dood, het ons begin om oor die dood en al die vyande van God te heers. Ons het opgehou om onderdane te wees en begin om konings te wees wat deel in die Koningskap van Christus. Dit alles is te danke aan… ~ “…die Een, Jesus Christus… en ons as gelowiges het… ~ “die oorvloed van genade en die vryspraak as gawe ontvang…” en ons… “…sal lewe en heerskappy voer…” (v.17).
• Toerekening (vv.18-19): Die vierde verskil tussen die werk van Adam en dié van Christus het te doen met die uitdrukking “toerekening” (Engels: “imputation”). Vv.18-19 som hierdie analogie (gedeeltelike ooreenkoms) baie mooi op.

V.18 begin met die woorde “soos een” (OAV = “daarom; Engels = “therefore”) en dit stel die apostel se opsomming bekend van alles wat vooraf gesê is (vv.12-17). Die hart van die argument in Rom.5:12-21 word in vv.12,18 en 19 weergegee. Die punt van Paulus se argument is om aan te dui dat die mens geregverdig word op grond van die toegerekende geregtigheid van die Tweede Adam, Christus Jesus, net soos wat die mens verdoem is op grond van die toegerekende sonde van die Eerste Adam. Aan die hand van die vergelyking tussen die gevalle mensdom in Adam en die verloste mensdom (gelowiges) in Christus, illustreer Paulus vir ons die Evangeliese metode, of die leer van regverdigmaking.

Wanneer ons praat van regverdigmaking, moet ons besef dat regverdigmaking ver meer is as bloot net die teenoorgestelde van veroordeling, of verdoemenis van die mensdom a.g.v. ’n oordeel wat uitgespreek is oor sonde. Dit is ook veel meer as die blote toerekening van goddelike geregtigheid. Dit is die paspoort tot die lewe – ’n lewe wat met die ewige- en lewende God gedeel word (v.21).

5. DIE WET VAN MOSES (vv.20-21):
Regdeur ons Skriflesing vir vanoggend, het Paulus die kontras tussen Adam en Christus beklemtoon, maar hier aan die einde van ons perikoop is daar egter geen verwysing meer na Adam nie, want Paulus se hooffokus is nou Christus Jesus en nié Adam nie.

Dit is ietwat van ’n verrassing as ons in v.20 lees en Paulus skielik verwys na die Wet. Wat Paulus o.a. hierdeur wil sê, is dat die Wet nie die mens se sonde en sy verlore toestand wil beklemtoon nie, want daardie toestand het reeds voor Sinaï bestaan. Die Wet ontbloot sonde slegs vir wat dit werklik is, maar dit dra verder ook daartoe by dat sonde toegeneem het in die wêreld. Dit is nie omdat daar inherent iets boos in die Wet is nie. Die Wet is in geheel, suiwer en regverdig. Dit is die menslike hart wat boos is. Die wêreld was wel slegter daaraan toe ná Sinaï, as vóór Sinaï, want sonde het net al meer en meer geword. Maar tog was Christus se verlossing groter as die verval van die wêreld. Waar sonde toeneem, het genade nog meer toegeneem. Waar sonde teenwoordig is, is God se genade in en deur Jesus Christus nog meer beskikbaar.

Baie mense dink dat God, die Wet by Sinaï gegee het om vir die mensdom te wys dat hulle deur die onderhouding van die Wet hulleself kan red. V.28 is egter baie duidelik daaroor dat dit ’n totaal verkeerde idee is en nie die doel met die Wet is nie. Die Wet van Moses beklemtoon wel die mens se verval in sonde, deurdat sonde uitgespel word in die Wet, asook die toename in skuld voor God deurdat die sonde bestaan en ook toeneem in die mensdom, maar dit wakker ook die begeerte in die sondige mens aan, om nog meer te sondig.

Maar (weereens), waar sonde toeneem, neem genade hand oor hand toe, deur Jesus Christus wat geregtigheid en lewe beskikbaar stel vir diegene wie in Hom glo.

6. GEVOLGTREKKING EN TOEPASSING:
Wanneer iemand sy geloof in Jesus Christus plaas en hy regverdig verklaar word in die oë van die Here, kan ’n mens jouself die vraag afvra of daar werklik ’n verskil plaasvind en indien wel, wat die verskil is.

Die primêre verskil is dat so ’n persoon ’n nuwe realme of werklikheid betree – ’n realme waar daar vrede tussen God en die gelowige bestaan. Wat eens ’n verhouding was wat gekenmerk was deur God se wraak op sonde, is dit nou ’n verhouding wat gebaseer is op hierdie vrede wat bestaan. Die gelowige tree weer toe tot daardie aanvanklike vredesverhouding wat tussen God en Adam bestaan het voor die sondeval en dit alles deur die werk van Jesus aan die kruis op Golgota.

Paulus se doel met Rom.5 is om die voordele en die basis vir hierdie vrede tussen God en mens te beskryf en hy doen dit aan die hand van die kontras wat daar bestaan tussen Adam se ongehoorsaamheid en Christus se gehoorsaamheid.

Kobus van der Walt

Paulus wil hê dat ons moet weet dat Christus se optrede en Sy werk onuitspreeklik groter en meer is as wat Adam bewerkstellig het. Adam het eenkeer gesondig en almal het gesterf. Christus het eenmaal gesterf en almal (wat glo) leef tot in ewigheid, trouens Christus se dood was nie net t.w.v. een sonde deur een mens nie, maar vir baie sondes deur baie mense. M.a.w. in die woorde van Rom.5:20 ~ “…waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword.” Die oplossing vir die “Adamiese probleem” was dus groter – veel-veel groter as die probleem self. Dit het veel groter implikasies en krag en mag tot gevolg. Die gevolg van Christus se optrede oorskadu die gevolg van Adam se optrede. Die dood van Christus het al ons sonde verwyder – daar is weer vrede – ewige vrede tussen ons en God!

Post a comment