Die Sendbrief aan die Romeine – 09 (“God se Toegerekende Geregtigheid en Regverdigmaking – 02”)

Die Sendbrief aan die Romeine – 09 (“God se Toegerekende Geregtigheid en Regverdigmaking – 02”)
Deel 1 – “Regverdigmaking deur Geloof Alleen” (Hoofstukke 1-8)

1. INLEIDING:
Paulus beweer dat die evangelie wat hy verkondig maar net ’n vervulling is van antieke beloftes en profesieë (Rom.12:1). In Rom.4 toon hy aan dat daar ’n baie belangrike korrelasie bestaan tussen die vroeëre Ou Testamentiese beloftes van redding en die vervulling daarvan in die lewe van Ou Testamentiese gelowiges, deur bv. te verwys na Abraham en Dawid se redding en die latere redding van Nuwe Testamentiese gelowiges – beide die Ou Testamentiese- en Nuwe Testamentiese gelowiges is op presies dieselfde wyse geregverdig, nl. deur geloof in God se belofte.

Ons moet verstaan dat Paulus se lering tot op hierdie stadium in sy brief aan die Romeine, nie aanvaarbaar vir die Jode sou wees nie. Dit is dan ook die rede waarom hulle, regdeur die duur van sy bediening, hom so fel vervolg het. Daar is veral drie dinge wat hulle baie ontstel het, nl.:
• Daar is geen verlossing deur onderhouding van die wet nie.
• Dit is nie nodig om besny te word ten einde gered te word nie.
• Redding word individueel gegee aan almal op grond van geloof.

Paulus het egter deurentyd volgehou dat verlossing deur geloof ook deur die “Wet en die Profete” verklaar word (3:21). Hy verwys na die boek wat deur die Jode gekoester is, nl. die Ou Testament ten einde sy punt te motiveer en hy demonstreer dit aan die hand van die lewensverhale van Abraham en ’n baie kort verwysing na Dawid. Kom ons kyk na Paulus se argument.

2. SKRIFLESING:
Rom.4:1-25 (NAV) ~ “Wat moet ons nou sê was die geval met ons stamvader Abraham? 2As Abraham op grond van sy dade vrygespreek is, dan het hy ’n rede gehad om te roem. Maar nie by God nie! 3Wat sê die Skrif? “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek.”  4’n Arbeider se loon word nie vir hom as ’n guns gegee nie, maar as iets wat hom toekom. 5Maar die mens wat nie op wetsonderhouding staatmaak nie, maar wat glo in Hom wat die goddelose vryspreek, hy kry die vryspraak deur sy geloof. 6So sê ook Dawid dat dié mens geseënd is wat deur God vrygespreek word buite wetsonderhouding om: 7“Geseënd is die mense wie se oortredinge nie gestraf word nie en wie se sonde vergewe word. 8Geseënd is die mens vir wie die Here die sonde nie toereken nie.” 9Het hierdie uitspraak oor wie geseënd is, net betrekking op die besnedenes of ook op die onbesnedenes? Ons sê weer: “Deurdat Abraham geglo het, het God hom vrygespreek. 10Wanneer het dit gebeur? Toe hy reeds besny was of toe hy nog onbesnede was? Dit was nie toe hy besnede was nie, maar toe hy nog onbesnede was. 11Hy het die besnydenis as ’n teken ontvang. Dit is ’n seël wat bewys dat God hom vrygespreek het deurdat hy geglo het toe hy nog onbesnede was. Die doel daarmee was dat hy die vader sou wees van almal wat glo al is hulle nie besny nie. Hulle word dus ook deur God vrygespreek deurdat hulle glo. 12Ons voorvader Abraham sou ook die vader wees van dié besnedenes wat nie net besny is nie, maar ook glo, soos hy geglo het toe hy nog onbesnede was. Wat belowe is, word deur die geloof verkry 13Dit is trouens nie omdat Abraham die wet van Moses onderhou het dat aan hom en sy nageslag die belofte gegee is dat hy die wêreld as besitting sal ontvang nie, maar omdat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het. 14As mense deur wetsonderhouding deelgenote van die belofte sou kon word, sou die geloof sy betekenis verloor het en die belofte sy krag. 15Die wet bring juis die straf van God, want waar daar nie ’n wet is nie, is daar ook geen oortreding van die wet nie. 16Daarom het die belofte deur die geloof, en dus uit genade, tot Abraham gekom sodat dit van krag sou bly vir sy hele nageslag. En sy nageslag is nie net dié wat die wet ontvang het nie, maar ook dié wat glo, soos Abraham geglo het. Hy is immers die vader van ons almal, 17soos daar geskrywe staan: “Ek het jou die vader van baie nasies gemaak.”  Dít is hy in die oë van God in wie hy geglo het, God wat dooies lewend maak en dinge wat nie bestaan nie, tot stand bring deur sy woord. 18Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo, en so die vader van baie nasies geword volgens die belofte: “So sal jou nageslag wees.” 19Al was hy sowat honderd jaar en al het hy dus goed besef dat sy liggaam reeds gedaan was en dat Sara te oud was om kinders te hê, het sy geloof nie verswak nie. 20Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee. 21Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het. 22Deurdat Abraham geglo het, het God hom dus vrygespreek. 23Dat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het, is nie net ter wille van hom opgeteken nie, 24maar ook ter wille van ons wat vrygespreek sal word, óns wat in God glo wat vir Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het. 25Hy is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word.”

3. GELOOF ALLEEN:
Julle mag moontlik teen hierdie tyd vra, waarom Paulus so baie tyd spandeer en soveel voorbeelde gebruik om die genadige geskenk van regverdigmaking deur geloof alleen, te verduidelik? Hy het hierdie leerstuk kortliks in Rom.1:16-17 vermeld en daarna het hy van Rom.1:18 tot Rom.3:20 tyd spandeer om die futiliteit (of nutteloosheid) om op alternatiewe wyses in ’n regte verhouding met God te staan, te beskryf. In 3:21-26 het hy hierdie leerstuk verder uiteengesit. Die woorde “geloof” en “glo” kom 21 keer voor in hierdie 30 verse. As ons die woorde “geregverdig”; “ongeloof”, “genade” en “werke” byvoeg, kry ons ’n totaal van 41 gevalle.

Die vraag is egter waarom plaas Paulus so ’n geweldige klem op geloof? Die antwoord is dat hy wil hê dat die kerk in Rome in eensgesindheid saam moet leef. En hy weet dat slegs hierdie leerstuk die kerk kan verenig, omdat hierdie leerstuk trots wat by mense wat deur hierdie leerstuk geraak word, afgebreek sal word. Sommige mense wat gelukkig is, of die Woord goed ken, of ’n sprankel in die oog het, of verklaar dat hulle gered is, ens., spog dikwels daaroor omdat al hierdie dinge oënskynlik ’n realiteit in hul lewe is, want hulle hulle is dan gedoop, of hulle gebruik die nagmaal, of hulle het opgegroei in ’n Christelike huis, of in die “regte kerk,” ens.? Indien hulle egter die leerstuk in Rom.1:6-3:26 regtig reg verstaan, sal hulle dit nie waag om te spog oor hulle geloof nie – sal hulle nie die eer daarvoor aan hulleself toeken nie. Ons kan nie daarop roem dat ons dit of dat vir die Here gedoen het ten einde gered te word nie. Nee, dit gaan oor wat Hy vir ons gedoen het ~ “Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld” (Gal.6:14).
• Die grondslag vir Abraham se geregtigheid (vv.1-5):
Die mees invloedryk persoon in die Judese-volk, was “vader Abraham,” en daarom stel Paulus in v.1 voor dat sy lesers weer na die ou patriarg se geloof sal kyk, want die “mede-stigter van die geloof” se standpunt oor hierdie saak, sal beslis hoog aangeslaan word deur die Joodse gelowiges.

In v.2 sê Paulus dat indien Abraham ~ “…op grond van sy dade vrygespreek (was), hy (dan) ’n rede gehad (het) om te roem. Maar nie by God nie!” Paulus se punt wat hy hier maak, het hy reeds in 2:10-18 gemaak en dit is dat God niemand regverdig verklaar op grond van werke nie, want niemand se werke is goed genoeg om vir regverdigmaking te kwalifiseer nie. Die implikasie is derhalwe dat Abraham slegs op grond van geloof deur God geregverdig kon word. Wat sê die Skrif hieroor? Paulus haal Gen.15:6 aan ten einde te bewys dat Abraham geregverdig is op grond van sy geloof. God het ’n belofte aan Abraham gemaak t.o.v. die toekoms. Menslik gesproke sou die deursnee mens die vervulling van sulke beloftes, as onmoontlik beskou het, want onthou Abraham het oënskynlik op daardie stadium, God nog nie geken of gedien nie. Ten spyte egter hiervan, het Abraham God vertrou en in Hom geglo en die Here het hierdie geloof (wat kennelik deur God self aan Abraham toebedeel het) in ag geneem en hom geregtigheid toegereken as gevolg daarvan.

Ons sien dat Abraham ná hierdie gebeurtenis in die egte verhouding met God geplaas is. Sy toegerekende geregtigheid word dus beskryf as iets wat aan hom geskenk is op grond van sy geloof (“charisma” – “gratis geskenk”). Wanneer iemand vir iets werk, kom daardie “iets” hom toe as hy sy werk suksesvol afgehandel het. Indien Abraham sy toegerekende geregtigheid verdien het, kan dit gesien word as vergoeding, of iets wat hom toekom en nie as ’n geskenk nie. Die Woord sou nie verwys het na ’n geskenk, as dit ’n verdienste was nie.

Dit is slegs wanneer iemand sy geregtigheid ontvang op grond van sy geloof in Christus Jesus, dat daar gesê kan word dat geregtigheid so ’n persoon toegereken is.
• Die grondslag vir Dawid se geregtigheid (vv.6-8): Ons moet onthou dat Abraham in God geglo het vóór die wet aan Israel gegee is. Paulus wil nou in vv.6-8 aantoon dat Abraham nie ’n uitsondering was nie. Dawid skryf in Ps.32:1-2 die volgende ~ “Dit gaan goed met die mens wie se oortredings nie gestraf word nie, wie se sonde vergewe word. Dit gaan goed met die mens vir wie die Here die oortreding nie toereken nie en in wie se gees daar geen valsheid is nie.” In hierdie twee verse beskryf Dawid die wonderlikste seën wat enige mens maar kan ontvang en dit is wanneer jou oortredinge (sonde) jou nie toegereken word nie. Dawid praat dus hoegenaamd nie hier soos iemand wat verwag dat hy vergewe sal word omdat hy goed gevaar het op geestelike vlak nie, trouens hy praat eerder soos iemand wat verwag dat sy sonde hom toegereken moet word, maar dat dit nie gaan gebeur nie omdat God hom eensydig en uit genade, regverdig verklaar het en nie op grond van sy goeie werke nie.

In vv.7-8 verwys Paulus terug na ’n verlore en sondige mens in die Ou Testament aan wie geregtigheid toegereken is. Hy sê ~ “Geseënd is die mense wie se oortredinge nie gestraf word nie en wie se sonde vergewe word. 8Geseënd is die mens vir wie die Here die sonde nie toereken nie.” In hierdie verse verwys Paulus na koning Dawid wat eers verlore was, maar wie later uit genade en op grond van sy geloof alleen, geregverdig is.

Dit is daarom baie duidelik dat ’n persoon geseënd is wat beskik oor opregte geloof. Dawid verklaar dat, omdat God uit genade sy wettelose optrede en sy talle spesifieke of toegespitste (of daaglikse) sonde bedek het, en omdat sy algemene sonde (die erfsonde in Adam) en sy algehele verdorwenheid uit genade alleen vergewe is, sal die Here nooit, ooit sy sonde teen hom hou nie. Wat ’n wonderlike seën is dít nie!

Abraham is uit genade alleen geregverdig deur geloof alleen, netso Dawid, en so word elke gelowige voor en na hulle ook geregverdig deur geloof alleen. ’n Sondaar se geloof word uit genade aanvaar deur God en word hy t.w.v. Christus gereken as regverdig.

Om watter rede word ons sonde ons nie toegereken nie? Omdat Jesus Christus al ons sonde op Hom geneem het – ons sonde is Hom toegereken (Engels = “imputed”) ~ “Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees. Julle het immers soos skape rondgedwaal, maar nou het julle teruggekom na julle Herder en die Bewaker van julle lewe” (1 Pet.2:24-25).

• Geregtigheid het die besnydenis voorafgegaan (vv.9-12): Paulus deel wonderlike nuus in v.9 wanneer hy die vraag vra… ~ “…Het hierdie uitspraak oor wie geseënd is, net betrekking op die besnedenes of ook op die onbesnedenes?” Paulus vra m.a.w. of toegerekende geregtigheid net vir die Jode beskore is, of vir alle mense? Hy antwoord sy eie vraag in die res van vv.9-12, wanneer hy sê dat toegerekende geregtigheid vir alle mense bedoel is en die bewys daarvoor lê in die feit dat Abraham regverdig verklaar is voor hy besny is (voor hy ’n Jood geword het).

In v.11a sê Paulus dat Abraham besny is, bloot as “teken”, of “seël” dat geregtigheid aan hom toegereken is op grond van sy geloof.

Paulus gaan in vv.11b-12 voort en sê dat Abraham beskryf kan word as… ~ “…die vader van almal wat glo al is hulle nie besny nie. Hulle word dus ook deur God vrygespreek deurdat hulle glo.” Geestelike verwantskap of -afstamming en nie fisiese verwantskap nie, is die bepalende faktor of jy geregverdig is of nie. Dit is slegs diegene wie deel in Abraham se reddende geloof, wat beskou word as kinders, of afstammelinge van Abraham, want die geregtigheid wat hy ontvang het op grond van sy geloof, word ook op dieselfde voorwaardes toegereken aan elkeen wat glo, nl. geregverdig uit genade alleen op grond van geloof alleen.

• Geregtigheid het die wet vooraf gegaan (vv.13-15): As ons na vv.13-15 kyk, is dit duidelik uit Paulus se opmerkings dat geloof die maatstaf is vir regverdigmaking en nié besnydenis, of die wet nie. Dit is baie duidelik sigbaar in die geskiedenis van Abraham. Abraham het reeds 430 jaar voordat God die wet aan Sy volk gegee het, die belofte van regverdigmaking ontvang. ’n Mens kan tog nie ’n belofte ontvang en dan word daar 430 jaar later gesê dat die vervulling van daardie belofte nou skielik afhang van die onderhouding van die wet nie – dan was dit ’n belofte wat afgehang het van voorwaardes wat nie eers genoem was nie – dit is nie ’n regverdige belofte nie, trouens as jy dit doen dan was die belofte nie ’n belofte nie.

God se belofte aan Abraham was ’n belofte sonder enige voorwaardes. Om te deel in Abraham se seën hang dus nie af van wetsonderhouding nie, maar van iets anders. V.15 is baie duidelik daaroor dat enige iemand wat die wet probeer onderhou, nie daarin sal slaag nie, trouens hulle stel hulle dramaties bloot aan die toorn van God as hulle dit sou probeer doen. Die wet dui bloot vir ons aan wat sonde is. Waar daar geen wet bestaan nie, kan daar nie ’n oortreding van die wet plaasvind nie. Waar sonde nie uitgespel word nie kan daar ook nie sprake van sonde wees nie. Die oomblik egter, as daar ’n wet is en jy oortree die wet, is jy in sonde. Daar bestaan dus geen twyfel dat geen mens geregverdig kan word deur die wet volkome te onderhou nie. Met ander woorde, die wet kan sondaars nie red nie – dit bring net God se toorn oor hulle en daarom kan die belofte wat aan Abraham in die “Abrahamiese Verbond” gegee is, slegs en alleen berus op genade wat aan hulle wie glo, geskenk of toegereken word.

4. DIE DOEL MET REGVERDIGMAKING (vv.16-24):
V.16 lei geen nuwe gedagte in nie, behalwe deur dit wat tot nou gesê is, op te som, met die byvoeging van die woorde van Gen.17:5 ten einde te motiveer dat Abraham se nageslag sal deel in die belofte wat aan Abraham gemaak is. Dieselfde regverdig makende geloof van Abraham geld vir gelowiges van die Nuwe Verbond.

5. BELOFTE VAN REGVERDiGMAKING (vv.23-25):
In die volgende drie verse skryf Paulus oor die toepassing van hierdie argument rondom Abraham. Hierdie feite was nie neergeskryf bloot net as historiese feite nie, maar as tydlose voorbeelde vir regverdigmaking deur die geloof alleen.

Wanneer Paulus in v.23 sê ~ “Dat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het, is nie net ter wille van hom opgeteken nie,” moet ons in gedagte hou dat hy met etniese Jode gepraat het. Hy sê derhalwe aan sy lesers dat regverdigmaking deur geloof alleen, ook beskikbaar is vir die nie-Jode (heidene). Meer nog, God het aan Abraham belowe dat hy ’n groot nasie sou word en dat hy sal dien tot ’n seën vir ander nasies (Gen12:2-3). Alhoewel Abraham nie aanvanklik beskik het oor die elemente wat nodig is vir nasiebou nie – grondgebied en ’n nageslag – roep God hom na die land Kanaän en belowe Hy aan hom dat hy ’n kind by sy onvrugbare vrou Sarah sal verwek (Gen.17:19). Al het nie een van die twee beloftes haalbaar geklink nie, het Abraham God onvoorwaardelik geglo en vertrou. Om hierdie rede het Paulus, Abraham se voorbeeld hoog geag en noem hy dit as voorbeeld vir alle gelowiges om na te volg (Gal.3:6) – ook vir die heidene.

John MacArthur skryf die volgende oor Abraham se geloof ~ “The story of Abraham and of his faith is important to us today because men are now saved on exactly the same basis on which Abraham was saved – trust in God. Even the sacrificial work of Jesus was the provision for Abraham’s sin by which God saved them. Men today have much greater divine revelation than Abraham had. During his lifetime, and for many centuries afterward, there was no written word of God. Yet Jesus declared categorically to the disbelieving Jewish leaders that ‘Abraham rejoiced to see My day, and he saw it and was glad’” (Joh.8:57).

Ons vind die kernvers van hierdie laaste gedeelte in v.24 ~ “…wat in God glo.” Met ander woorde, geloof is die noodsaaklike voorwaarde of element vir redding – geloof in Jesus Christus wat gekruisig en gesterf het vir ons sonde.

Ons lees in v.25 ~ “Hy is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word.” Dit blyk baie duidelik hieruit, dat dit God is wat die inisiatief neem wanneer iemand geregverdig word. Dit is ook belangrik om in hierdie vers raak te sien, dat dit geloof in God is, Wie Christus uit die dood opgewek het. Geloof is dus in wese gerig tot God die Vader.

Paulus sluit sy hoofstuk af in v.25 met hierdie woorde ~ “Hy is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word.” Hierdie is ’n kardinaal belangrike vers, want Christus se verlossingswerk sou nie afgehandel gewees het as Hy nie uit die dood opgewek was nie. Sy opstanding uit die dood dui vir ons op die vervulling, of suksesvolle afhandeling van Sy aardse sending. Deur Sy dood het Hy vir ons sonde
betaal en deur Sy opstanding het ons, ons ewige erfenis ontvang.

6. GEVOLGTREKKING EN TOEPASSING:
In hierdie laaste gedeelte van Rom.4 (vv.18-25) het ons gesien dat…:
• Die motivering vir Abraham se geloof was die belofte wat God aan hom gemaak het, nl. dat hy die vader van ’n groot nasie sou word (v.18).
• Die krag van sy geloof word gesien in die feit dat hy God se beloftes geglo het, al het dit onmoontlik blyk te gewees het (v.19).
• Die basis vir sy geloof was die vermoë en getrouheid van God om so ’n belofte in vervulling te kon laat kom (v.21).
• Die gevolg van sy geloof was dat hy geregverdig is (v.22).
• Die verhaal van sy geloof is aan ons gegee ten einde ons te leer dat almal wat glo in die dood en opstanding van Jesus Christus, ook geregtigheid toegereken sal word (vv.23-25).
• Die opstanding van Jesus Christus dui vir ons daarop dat God die Vader, Sy Seun se offer aanvaar het – dit is die volle betaling vir elke gelowige se sonde en dit is teken daarvan dat volle geregtigheid aan elkeen wat glo, toegereken word.

Net ’n laaste, maar uiters belangrike opmerking en dit is dat die bewys van opregte en reddende geloof lê in ons gehoorsaamheid aan Hom wat geregtigheid toereken aan die wat in Hom glo. Soos Paul Washer sê: “The evidence of salvation, the evidence of repentance, the evidence of faith, is a changed and changing life.”

Post a comment