Die Dissipels se Gebed – 02 (Die 1ste, 2de en 3de Bedes)

Die Dissipels se Gebed – 02 (Die 1ste, 2de en 3de Bedes)

1. INLEIDING:
Ons het verlede Sondag met ’n mini-reeks begin oor die “Onse Vader,” ook genoem “Die Dissipels se Gebed.” Nadat een van Jesus se dissipels Hom in Luk.11 gevra het om hulle te leer bid, het Jesus begin deur vir hulle te vertel hoe om nié te bid nie. Hy noem aan hulle twee maniere hoe om verkeerd te bid:
• Die eerste is om grootdoenerig te bid (Matt.6:5-6).
• Tweedens, ’n ydele herhaling van woorde en onopregtheid (Matt.6:7-8).

Ons het ook na die inleidende gedeelte van die “Onse Vader” gekyk en o.a. gesien dat hierdie ’n model-gebed is waarop al ons gebede geskoei behoort te word en dan het ons veral ook gekyk na die uitdrukking, “Onse Vader” (Matt.6:9), asook “in die hemele” (Matt.6:9) en wat die betekenis daarvan vir ons inhou en hoe ons met hierdie uitdrukkings in gedagte, moet bid.

Ons het ook gesien dat Jesus nie ’n woordelikse herhaling van die woorde in die “Onse Vader,” of die gebed self voorskryf nie. Hierdie gebed is voorwaar ’n meesterstuk soos te wagte, maar let daarop dat Jesus nooit gesê het dat ons só moet bid nie, maar dat ons op dieselfde wyse moet bid, anders kan hierdie gebed lei tot formalisme. Wanneer ons bid moet ons aandag skenk aan die Vader se persoon, Sy wil, Sy voorsiening, vergifnis, beskerming, krag en Sy karaktereienskappe. Ons moet derhalwe ons gebede begin met aanbidding en lof en eer aan Hom – Hom wat waardig is om al die lof en heerlikheid wat die mensdom Hom kan bring, te ontvang.

Laastens het ons ook gesien dat ons die naam “Vader” kan gebruik wanneer ons met God d.m.v. gebed praat, maar daar mag geen roekelose familiariteit in ons gebede wees nie. Ons moet ook versigtig wees om nie die Name van God as ’n cliché te gebruik, of as stopwoorde nie. Sy Naam is ’n heilige Naam en ons moet met eerbied en diepe ontsag omgaan met Sy Naam.

2. SKRIFLESING:
Matt.6:5-15 (OAV) ~ “5En wanneer jy bid, moet jy nie wees soos die geveinsdes nie; want hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die hoeke van die strate te staan en bid, om deur die mense gesien te word. Voorwaar Ek sê vir julle dat hulle hul loon weg het. 6Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde. 7En as julle bid, gebruik nie ’n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur hul baie woorde verhoor sal word. 8Moet dan nie soos hulle word nie, want jul Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra. 9Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; 10laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; 11gee ons vandag ons daaglikse brood; 12en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; 13en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.”

3. DIE EESRTE BEDE (v.9b):
Dawid proklameer teenoor God in Ps.138:2 ~ “…U het u Naam en u woord bo alles gestel.” Hier word God se Naam en Sy Woord in dieselfde asem gebruik – net soos in die “Dissipels se Gebed.” God se Woord en Sy Naam gaan altyd saam. Dit is wat Hy vir ons sê – Sy Woord openbaar Sy Naam aan ons.

Reg aan die begin van Sy “model-gebed” rig Jesus ’n waarskuwing aan Sy dissipels (aan ons), t.o.v. selfgerigte gebede.

God moet absolute prioriteit in ons ganse lewe geniet en sekerlik ook tydens ons tye van aanbidding en gemeenskap met Hom. Gebed is nie ’n ontspanne roetine wat terloopse eer aan God bring nie, maar moet ons vul met eerbied en bewondering en waardering, eer en aanbidding. Hierdie wete behoort ons bedag te maak daarop om nie sentimenteel om te gaan met die Vader nie en dat ons ook nie Sy Naam nl. “God,” “Vader,” “Here,” “Jesus,” ens. sal misbruik in ons gebede nie.

Ons moet derhalwe baie versigtig wees om nie die Here se Name te belaster en te misbruik nie en ook nie sentimenteel daarmee omgaan nie (bv. “liewe Jesus,” of “my hemelse Pappie”, ens.). God se Name hou veel-veel meer in as wat dit dalk op die oog af mag klink of lyk. Sy Name verteenwoordig wie en wat Hy is – Sy karaktereienskappe (Sy “attribute”) word vervat in Sy Name. Ons sien bv. in Eks.34:5-7 toe Moses die Berg Sinaï bestyg het om die tweede stel kliptafels met die Wet te ontvang, hy… “…die Here se Naam uitgeroep,” waarop die Here by Hom verbygegaan en uitgeroep het ~ “Here, Here, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie; wat die ongeregtigheid van die vaders besoek aan die kinders en aan die kindskinders, aan die derde en aan die vierde geslag.” Die karaktereienskappe wat ons in vv.6-7 vind is gelykstaande aan “die Naam van die Here” wat in v.5 genoem word, nl. “HERE.” Dit is nie bloot omdat ons die Here se Name en titels ken dat ons Hom lief het en vertrou nie, maar omdat ons Sy karakter eienskappe ken.

Die eerste bede in hierdie “model gebed” van Jesus is, “laat u Naam geheilig word” (v.9b). Die woord heilig (of geheilig) is afkomstig van die Griekse woord ἁγιάζω (hagiazõ) wat letterlik beteken, “om heilig te maak.” Dit is dieselfde woord wat in 1 Pet.1:16 gebruik word wanneer Petrus vir die gelowiges sê dat hulle heilige lewens moet leef ~ “Wees heilig, want Ek is heilig.”

Ons weet vanuit die Skrif dat God ’n heilige God is (o.a. Jes.6:3 en Openb.4:8), maar wat beteken dit om Sy Naam “heilig te maak” soos wat die Grieks vir ons sê om te doen? Om Sy Naam heilig te maak, beteken in die woorde van Petrus, om… “…die Here God in (ons) harte te (heilig)” (1Pet.3:15). Indien ons die Here in ons harte heilig, sal ons Hom ook in ons lewe heilig en sal ons derhalwe gehoorsaam wees aan v.16 van 1 Petrus, nl. “Wees heilig, want Ek is heilig.”

Ons maak ook die Here heilig deur oor kennis van Sy Naam te beskik. Ons kan nie eerbied aan Hom betoon as ons nie oor kennis van Sy karakter beskik nie – ons moet Hom ken, maar ons moet ook oor uitgebreide kennis van Sy karakter beskik. Ons moet weet dat Hy almagtig en soewerein is (bv. Joh.5:17,26). Ons moet weet dat Hy volmaak is (bv. Matt.5:48) en goed is (bv. Matt.19:17) en heilig is (bv. Joh.17:11). Weet dat Hy geregtigheid is (bv. Joh.17:25) en regverdig is (Matt.18:35). Ons moet weet dat Hy genadig (o.a. Luk.6:36) en liefdevol (o.a. Joh.3:16) en vol vergifnis is (o.a. Matt.6:14) en ook vrygewig (bv. Matt.7:11). Ons moet weet dat Hy ons lief het (bv. Joh.3:16). Ons moet erken dat Hy die Skepper van die heelal is (Gen.1:1). Ken Sy attribute en begin om Hom te dank daarvoor – dink wat dit alles impliseer vir jou as Sy kind en dank Hom daarvoor ook.

Ons heilig die Here se Naam wanneer ons Hom waardeer en respekteer en Hom die prioriteit van ons lewe maak. Ons heilig Hom wanneer ons, ons volkome vertroue in Hom plaas ~ “Ja, in Hom is ons hart bly, op sy heilige Naam vertrou ons” (Ps.33:21). Ons heilig Sy Naam wanneer ons Sy Naam met die grootste respek gebruik, elke keer wanneer ons van en met Hom praat. Wanneer die Bybel praat oor die Here, kry ons ’n baie goeie aanduiding van hoe hoog selfs die Skrif Sy Name ag ~ “Geloof sy God die Allerhoogste! Hy het jou vyand in jou mag oorgegee” (Gen.14:20); “Kom, prys die Here julle God! Hy is van ewigheid tot ewigheid.” Toe het hulle u magtige Naam geprys, verhewe bo alle lof en roem” (Neh.9:5).

Ons heilig Sy Naam wanneer ons in opregte en eerbiedwaardige wyse Hom loof en prys – ons moet derhalwe ons lofprysing en aanbidding in dieselfde lig sien en hanteer as wat ons, ons gebedstyd hanteer, want ons is ook tydens ons lofprysing en aanbidding besig met ’n soewereine en heilige God.

Ons moet voortdurend bewus wys van Sy teenwoordigheid. Ons sal ook Sy Naam heilig wanneer ons in ooreenstemming met Sy wil soos geopenbaar in die Woord, sou optree. Ook wanneer ons saam met Hom treur wanneer Sy Naam onteer word; wanneer ons opstaan vir Sy Waarheid; wanneer ons die Evangelie verkondig.

Ons hoor dikwels hoe dat Charismatiese- en Pinkster- mense, God se Hebreeuse Name gebruik wanneer hulle oor Hom praat en wanneer hulle oor hul geloof en vertroue in Hom praat. Alhoewel sekere van hulle dit nie met die nodige eerbied en ontsag doen nie, kan ons beslis iets van hulle in dié verband leer. Ons moet egter altyd onthou dat ons hierdie Name met groot ontsag en eerbied moet gebruik, want elke Naam is swaar gelaai met betekenis en beskrywings van God se karakter – bv.:
o Elohim = “Skepper God;”
o El Elyon = “Heerser oor hemel en aarde;”
o Jehovah-Jireh = “Die Here sal voorsien;”
o Jehovah-Shalom = “Die Here van vrede;”
o Jehovah-Tsidkenu = “Die Here ons geregtigheid;”
o El, Elhoah = “Almagtige God;”
o El-Olam = “Ewige God,”
o God het nog baie ander Name – sien bv.: https://www.gotquestions.org/names-of-God.html) (Let asb. daarop dat ons as gemeente nie alles wat op hierdie webtuiste geskryf word, ondersteun nie – veral t.o.v. die eskatologie).

“Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word.” Nie Alla, of enige iemand anders se Naam nie, maar net ons hemelse Vader se Naam.

4. DIE TWEEDE BEDE (v.10a):
Wanneer ons in detail na Jesus se “modelgebed” vir Sy dissipels kyk, sien ons bepaalde gebedsprioriteite wat Jesus vir die Kerk gegee het. In die eerste bede het Hy gesê, moet ons bid dat, “onse Vader wat in die hemele is,” se ~ “Naam geheilig (moet) word.”

Jesus leer ons egter in die tweede bede dat ons moet bid, “laat u koninkryk kom.” Hierdie tweede bede is ’n natuurlike opvolg op die eerste bede – die eerste lei natuurlikerwys na hierdie tweede een. In hierdie tweede bede vra ons dat God se Koninkryk moet kom. Wat is Sy Koninkryk? In ’n sekere sin lê Sy Koninkryk in die verlede, want God het nog altyd oor die mensdom en geskiedenis geheers. Terselfdertyd lê Sy Koninkryk egter ook in die teenswoordige én in die toekomstige – God het regeer; Hy regeer tans en Hy sal voortgaan om te regeer. Die Here Jesus het vir die mense in Sy tyd op aarde gesê ~ “…die koninkryk van God is hier by julle.” (Luk17:21b), maar Hy het ook vir Sy dissipels geleer om te bid ~ “…laat u koninkryk kom.”

Waarskynlik die heel belangrikste ding om van God se Koninkryk te sê, is dat dit Gód se Koninkryk is. Dit beteken dat dit ver verhewe bo enige aardse koninkryk is. Daar is egter ook ’n faset van Sy Koninkryk waar Hy die mens in onderwerping en gehoorsaamheid aan Hom wil bring, en ook in lyn met Sy doel met die geskiedenis van die aarde. In ’n sekere opsig het hierdie proses in die Ou Testamentiese tydperk begin – so het die woord van Natan bv. aan Dawid gekom deur te sê ~ “…Ek maak aan jou bekend dat Ek vir jou ‘n koningshuis gaan vestig. Wanneer jy te sterwe kom en jy by jou voorvaders rus, sal Ek een van jou nageslag, jou eie seun, koning maak en aan hom ‘n bestendige koningskap gee” (2 Sam.7:11-12). Dan sê v.16 verder ~ “Jou koningshuis en jou koningskap sal vir altyd vas staan; jou troon sal altyd voortbestaan.” Hierdie was ’n baie duidelike profesie oor die koms van die Here Jesus wat op daardie stadium nog in die toekoms gelê het.

Toe die Here Jesus vlees geword en met Sy bediening begin het, het God se Koninkryk nog ’n stappie nader gekom. In Christus was dit tussen die mensdom, daarom dat Jesus gesê het ~ “…die koninkryk van God is hier by julle” (Luk.17:21b).

Na Jesus se Hemelvaart is die Koninkryk van God nog steeds by ons, deurdat die Heilige Gees steeds in ons werk en teenwoordig is. Dit is ook waarom Paulus gesê het ~ “Die koninkryk van God is nie ‘n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee” (Rom.14:17). God se Koninkryk kom vandag nog steeds, elke keer wanneer Sy geregtigheid en vrede en vreugde ’n lewe verander en so ’n persoon vul met Sy geestelike seën van wedergeboorte.

Wanneer ons bid, “laat u koninkryk kom,” bid ons derhalwe heel eerste dat God se Koninkryk in die lewe van mense sal kom – dat mense by ’n punt van sondebesef en wedergeboorte sal kom, sodat hulle kan wegdraai van hul rebellie teen God en kan glo in die Koning wat gesterf en opgestaan het. Ons het baie voorbeelde in die Bybel vir wie die Koninkryk gekom het – bv. Saggéüs in Luk.19:9.

Wanneer ons by hierdie tweede bede kom, moet ons dit in gedagte hou en vir mense bid dat die Koninkryk sal kom in individue se lewe, veral mense wat ons ken en ook mense wie ons geestelike verantwoordelik voel – noem hulle by die naam. Ons moet egter ook bid dat die Koninkryk vir mense sal kom wat onder die bediening van ander voorgangers en sendelinge sit, (bv. die mense in xxxxxxxx waar Tommie en Emmanuel werk).

Die eerste- en hierdie tweede bede, tesame met die derde bede (waarna ons nou sal kyk), nl. “laat u wil geskied” vorm ’n eenheid. God se Naam kan nie meer geëer word wanneer mense getuig van Sy reddingsgenade en -liefde nie – wanneer hulle ingesluit word in Sy Koninkryk nie.

God se Koninkryk kom ook in ons lewe, wanneer Jesus Christus in ons harte heers. Sy Koninkryk kom ook wanneer Sy wil in ons lewe geskied; wanneer ons in afhanklikheid van Hom lewe. Sy Koninkryk kom wanneer ons besef dat vergifnis vir ons sonde van Hom kom en wanneer ons vergifnis leef teenoor andere. Sy Koninkryk kom wanneer ons, ons lewe inrig volgens Sy Woord en wanneer Hy ons van die Bose verlos.

Wanneer ons bid dat Sy Koninkryk moet kom, bid ons ook vir die koms van die toekomstige Koninkryk, wanneer Jesus se eenmalige wederkoms plaasvind ~ “By die laaste trompet sal dit in ‘n oomblik, in ‘n oogknip gebeur, want die trompet sal weerklink, en die dooies sal as onverganklikes opgewek word, en ons sal verander word” (1 Kor.15:52). “Wanneer die bevel gegee word en die stem van die aartsengel en die trompet van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal. Allereers sal dié wat in Christus gesterf het, uit die dood opstaan…” (1 Tes.4:16). Ons lees ook in Openb.20:10 wat met Christus se wederkoms gaan plaasvind ~ “Die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swael gegooi, daar waar die dier en die vals profeet ook is. Hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid” (Openb.20:10). Op daardie wonderlike dag sal Christus se ewige Koninkryk finaal en volkome aanbreek.

Met die woorde van Openb.22:20 in gedagte, nl. ~ “Kom, Here Jesus” moet ons die Here ook dank dat ons deel gaan wees van God se ewige Koninkryk.

Waarom is dit nodig dat ons vurig moet bid dat God se Koninkryk moet kom?
• Want, alvorens Sy Koninkryk nie kom nie, het geen mens die reg tot die genadeverbond nie.
• Indien die Koninkryk nie in ons harte gevestig word nie, dien ons aanbidding geen doel nie.
• Voor iemand die Koninkryk van God kan betree, is hy deel van die satan se koninkryk.
• Totdat die Koninkryk kom in mense se lewens, is hulle blootgestel aan God se oordeel.

5. DIE DERDE BEDE (v.10b):
Ek het reeds aangedui dat die derde bede, nl. “…laat U wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Matt.6:10b) deel uitmaak van die eerste en tweede bedes,.

Don Carson in sy eksegese van Matt.5-10 sê dat wanneer ons bid dat God se wil moet geskied, lê ons twee baie belangrike verantwoordelikhede op ons skouers, waartoe ons onsself verbind.
• Eerstens verbind ek myself daartoe om alles wat ek kan van God se wil te leer. Dit beteken dat ek, my sal toelê op die bestudering van Sy Woord.
• Tweedens, verbind ek my daartoe dat ek Sy wil soos geopenbaar in Sy Woord sal uitleef.

Daar is drie aspekte van God se wil wat in Sy Woord geopenbaar word en waarvan ons kennis moet neem:
• Eerstens Sy verordeningswil: Die eerste is die lewende, ewige en soewereine God van hemel en aarde se verordeningswil. Dit is waar Hy volgens Sy goddelike raadsplan die verloop bepaal van die ganse geskiedenis. Hierdie plan raak die fynste besonderhede van alle gebeure in Sy skepping en loop heen na ’n spesifieke einddoel, nl. dat Hy verheerlik sal word. Só het Hy dit verordineer en niks en niemand kan Hom in die uitwerk van die plan stuit nie. Hierdie wil is slegs gedeeltelik aan die mens bekend, soos geopenbaar in Sy Woord – die mens het dus geen beheer oor die uitwerk van hierdie wil van God nie. Jes.14:24 is ’n goeie voorbeeld hiervan ~ “Die Here die Almagtige het ‘n eed afgelê: Soos Ek My voorgeneem het, so sal dit wees, wat Ek besluit het, sal gebeur.”
• Sy voorgeskrewe wil: Tweedens, God se voorgeskrewe wil, is daardie wil van God waar Hy ’n bepaalde verantwoordelikheid op die mens se skouers plaas. As die mens dit nakom, behaag hulle God. As hulle dit egter verwerp, rebelleer hulle teen hul Skepper en sal hulle Sy oordeel en straf moet verduur. In die uitwerk van hierdie wil is die mens dus verantwoordelik, aanspreeklik en aktief. Hy leef dus God se voorgeskrewe wil uit, as hy doen wat God hom beveel, maar hom ook weerhou van dít wat God verbied.
• Sy voorkeurwil: Derdens, vind ons God se voorkeurwil. Hierdie wil word nie altyd vervul nie, trouens dit is baie meer onvervuld as dié van Satan s’n. Jesus het daarna gesmag dat Jerusalem gered moes word en daarom het Hy gebid, gepreek en genesing bedien onder Sy mense, sodat hierdie stad se mense hulle sou omdraai van hul verkeerde weë, maar min het op die ou einde geglo – die meeste het Hom verwerp en sommige het Hom selfs gekruisig ~ “Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke, maar julle wou nie!” (Luk.13:34). Sy voorkeur is dus dat bepaalde dinge sal gebeur (bekering bv.), maar binne Sy soewereine wil gebeur dit nie, o.a. a.g.v. ’n “hardnekkige volk” en hul sonde.

God se verordeningswil handel oor die uiteinde van die wêreld, terwyl Sy voorkeurwil handel oor bekering en Sy voorgeskrewe wil behels die toewyding en gehoorsaamheid van Sy kinders. “…laat U wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.”

6. GEVOLGTREKKING EN TOEPASSING:
Ons roeping as gelowiges is om hemel en aarde bymekaar uit te bring deur God se Naam te verheerlik en Sy Koninkryk deur ons lewe en gebed te laat kom en Sy wil na te volg.

Ons moet Hom dank en loof en prys vir die feit dat Hy die fyn balanse in die heelal in plek hou en dat die ganse geskiedenis van die heelal onder Sy beheer is en dat dit volgens Sy volmaakte wil volvoer sál word.

Ons moet bid teen die Satan se koninkryk en ons moet bid dat die Heilige Gees die oë van ongeredde mense sal open en die nasies sal inbring in Sy Koninkryk. Ons moet bid dat die Here ons sal help om gehoorsaam te wees aan Sy Woord en dat ons ooreenkomstig die Woord sal leef.

Ons moet die Here heilig deur heilige lewens te lei. Ons moet Hom heilig deur ’n ware en opregte kennis van Hom te hê en Hom in heiligheid en opregtheid aanbid en moet voortdurend bewus wees van Sy teenwoordigheid.

Kobus van der Walt

Ons moet bid dat Sy Koninkryk van genade in ons harte teenwoordig sal wees en dat dit vir ongelowiges sal kom.

“Laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Matt.6:9b, 10).

Post a comment