Die Dissipels se Gebed – 01 (Jesus se Waarskuwing en die Inleiding)

Die Dissipels se Gebed – 01 (Jesus se Waarskuwing en die Inleiding tot die Gebed)

1. INLEIDING:
“Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde…” Ons ken waarskynlik almal hierdie woorde. Baie, indien nie almal van ons nie, ken dit ook van kindsbeen af uit die kop. Die ouer mense onder ons sal onthou hoe ons hierdie woorde reeds in Graad 1 elke oggend voor skool opgesê het. Die vraag is of ons regtig hierdie woorde uit die hart of die kop gesê het? Het ons geweet en verstaan wat ons gebid het? Weet ons nou presies wat alles beteken en inhou?

J.C. Ryall in sy boek “A Call to Prayer” vra die volgende vraag aan sy lesers: “Prayer is absolutely needful to a man’s salvation.” Hy gaan voort en sê dan: “To be prayer-less is to be without God, without Christ, without grace, without hope, and without heaven. It is to be on the road to hell. Now, no wonder that I ask the question, do you pray?”

Warren Wiersbe sê in sy boek., “On Earth as it is in Heaven,” “…to neglect prayer is to cheapen everything Jesus accomplished for us at Calvary and is doing for us now in glory.”

Ons sien regdeur die Evangelies, dat gebed die Here Jesus se gebruik en gewoonte was – die “geheime” bron vir Sy krag.

Jesus het in die Bergpredikasie (Matt.6) vir Sy dissipels geleer hoe om te bid, want Hy het geweet hoe belangrik gebed was en steeds is vir ware dissipelskap. Op ’n dag het een van Jesus se dissipels Hom sien bid en waarskynlik steeds onder die indruk van Jesus se lering in Matt.6, vra hy vir Jesus in Luk.11:1 ~ “Here, leer ons bid, soos Johannes ook sy dissipels geleer het.”

Hierdie gebed het in Engels die naam, “The Lord’s Prayer” en in Afrikaans, “Die Onse Vader” gekry.

Die “Onse Vader” soos opgeteken in Matt.6, is die hart van Jesus se Bergpredikasie en word voorafgegaan deur twee waarskuwings deur Jesus: “Moenie julle gebede gebruik om spoggerig te klink, of om aan te toon hoe geestelik julle is nie, en moet ook nie sommer net ’n klomp betekenislose woorde mompel nie. Kom by die punt uit. Dit is die krag van ons geloof en nie die lengte of spoggerigheid van ons gebed wat God tevrede stel nie.”

Let asb. ook daarop dat menige teoloog glo dat dit beter is om eerder te verwys na “Die Dissipels se Gebed,” as na “Die Onse Vader,” of “The Lord’s Prayer” (in Engels).

As die enigste “modelgebed,” of templaat-gebed,” of “voorbeeld-gebed” wat deur die Here Jesus aan ons gegee is, moet ons besef dat hierdie gebed nie alleen tydloos in doel en funksie is nie, maar dat dit ook vir ons ’n aanduiding is van hoe ons deur ons lewe behoort te bid. Die “Dissipels se Gebed” moet du die basis vorm vir al ons gebede.

2. SKRIFLESING:
Matt.6:5-15 (OAV) ~ “5En wanneer jy bid, moet jy nie wees soos die geveinsdes nie; want hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die hoeke van die strate te staan en bid, om deur die mense gesien te word. Voorwaar Ek sê vir julle dat hulle hul loon weg het. 6Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde. 7En as julle bid, gebruik nie ’n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur hul baie woorde verhoor sal word. 8Moet dan nie soos hulle word nie, want jul Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra. 9Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; 10laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; 11gee ons vandag ons daaglikse brood; 12en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; 13en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.”

3. JESUS SE WAARSKUWING (vv.5-8):
Die rede waarom die dissipel Jesus gevra het om hulle te leer hoe om te bid, was waarskynlik omdat hulle Hom gereeld sien bid het. Jesus sou Hom van hulle afsonder en vir lang tye van intense gebed. Ons weet bv. dat Hy op ’n keer in die Tuin van Getsémané so intens gebid het dat sy sweet soos bloeddruppels geword het (Lukas 22:44). Ons weet ook dat Hy ’n hele nag deurgebring het in gebed voor Hy Sy dissipels gekies het. Dit kon nie anders nie, die dissipels moes Jesus se toewyding aan gebed raak gesien het.

Wanneer ons na Lukas se weergawe kyk van die dissipel se versoek om hulle te leer bid, dan is dit duidelik dat hulle ook beïndruk was met Johannes die Doper se gebedslewe, want die dissipel het o.a. vir Jesus gesê… ~ “Here, leer ons bid, soos Johannes ook sy dissipels geleer het” (Luk.11:1). Die dissipels wou deel wees van hierdie toewyding.

Wat Jesus in reaksie op hul versoek aan die dissipels geleer het, is nie ’n modelgebed wat ons soos ’n ritueel, of “mantra” moet herhaal nie, want Hy het hulle bepaalde beginsels gegee waarvolgens hulle toegewyd en effektief kon bid. Wat ook interessant is om van kennis te neem, is die feit dat Jesus se reaksie op die dissipel se versoek, nie was om hulle dadelik te leer hoe om te bid nie, maar om eers vir hulle te sê hoe om NIE te bid nie ~ “…En wanneer jy bid, moet jy nie wees soos die geveinsdes nie.”

Jesus het na twee tipes van verkeerde of onaanvaarde gebede verwys:
• Grootdoenerige gebed (vv.5-6): Die eerste tipe verkeerde- of onaanvaarde gebed kan ons grootdoenerige gebede noem. Hierdie tipe van gebed word in plekke gebid waar mense jou kan raaksien en hoor en die doel daarmee is om deur hierdie mense geër te word. Ons het ’n voorbeeld hiervan in Jesus se gelykenis van die Fariseër en Tollenaar. Die Fariseër het opgestaan en oor homself gebid (Luk.18:11). Die omstanders het waarskynlik van hom gesê, “wat ’n vroom en godsdienstige man.” Jesus sê egter van hierdie Fariseër… ~ “…want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en hy wat homself verneder, sal verhoog word.” Die Tollenaar (op wie die godsdienstige Jode neergesien het) is egter geregverdig. Hy het nie die aandag op homself gevestig nie, maar het eerder “ver weg gestaan” en as volg gebid, “o God, wees my, sondaar, genadig!” (Luk.18:13). Van hom het Jesus gesê ~ “Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is” (Luk.18:14, OAV).
• Ydele herhaling en onopregtheid (vv.7-8): Die tweede tipe verkeerde- of onaanvaarde gebed kan ons ’n ydele herhaling van woorde noem. Jesus het hierdie tipe van gebed vergelyk met die gebede van die heidene. Die gebed van die Baälpriester is ’n goeie voorbeeld hiervan. Die heidene het die Baäl van die oggend tot die aand en al harder en harder geroep en hulle self soos altyd, “…stukkend met swaarde en spiese (gekerf) dat die bloed oor hulle loop” (1 Kon.18:28), maar soos te wagte het die Baäl hulle nie gehoor nie.

Jesus veroordeel nie lang gebede nie en ook nie openbare gebed in hierdie verse nie. Hy het self lang tye in gebed spandeer soos ons reeds gesien het. Hy het ook in die openbaar gebid. Wat Hy wel veroordeel is ’n “ydele herhaling” en onopregtheid of grootdoenerigheid, om andere te beïndruk met jou godsdienstigheid.

William Barclay, in sy bespreking van die Evangelie van Matteus, wys daarop dat daar oor die jare heen, heelwat foute in die Jode se gebedslewe ingesluip het. So het gebed bv. ’n ritueel vir die meeste Jode geword. Die woord en vorms van gebede het vasgelê geraak en is dit letterlik voorgelees of voorgedra (soos die geval met baie ander gelowe). Hierdie is ’n vormgodsdiens wat absoluut niks beteken nie.

’n Getroue Judeër sou bv. die “Shema” (die belangrikste voorgeskrewe gebed in die Judaïsme) vroeg in die oggend en weer in die aand opgesê het. Die gebed begin met woorde uit Deut.6:4, “Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here” (OAV). Die gebed was verder ’n samestelling van uitgesoekte frases uit Deur.6:4-9, 11:13-21 en Num, 15:37-41. Baie dikwels is ook ’n verkorte of opgesomde gedeelte van Deut.6:4 voorgedra, of voorgelees.

’n Ander formeel voorgeskrewe gebed wat Barclay na verwys is die “Shemoneh Esrei” (ook genoem “Die Agtien” – die belangrikste gebed in die Sinagoge), wat uit agtien gebede bestaan het vir verskillende geleenthede. Toegewyde Jode sal elke oggend, middag en aand, al agtien hierdie gebede voorlees of opsê. Ook hierdie gebede het ’n verkorte (opgesomde) weergawe.

Voorgeskrewe- of gebede van rituele aard kan op een van drie maniere “gebid” word: opreg, ongeërg, of trots. Die Jode wat opreg van hart was, het die tyd van gebed gebruik om God in waarheid en opregtheid te aanbid. Hulle het die woorde van die voorgeskrewe gebede oordink en opreg geglo wat hulle gebid het. Ander weer het die woorde van hierdie gebede kunsmatig en oppervlakkig voorgelees of voorgedra en dit so vinnig moontlik afgerammel om net klaar te kry. Andere weer, soos die Fariseërs, het die gebede noukeurig voorgedra en seker gemaak dat elke woord en lettergreep reg uitgespreek word. Drie keer per dag het hulle die geleentheid gehad om hierdie perfek ingestudeerde gebed voor te kon dra.

’n Ander probleem met die Jode se gebedslewe was dat hulle gebede beperk het tot sekere geleenthede en tye, maar Jode wat in opregtheid gebid het, het hulle nie aan bepaalde tye en geleenthede gesteur nie en “tydig en ontydig” gebid. Baie getroue Jode soos bv. Daniël (Dan.6:10) het ook die voorgeskrewe tye gebruik om hul harte oop te maak voor die Here. Ons sien in Hand.3:1 (ook Hand.10:3,30) dat daar selfs in die vroeë Nuwe Testamentiese kerk, dat die gelowiges, van wie die meeste bekeerde Jode was, steeds op die voorgeskrewe Joodse tye vir gebed, in die tempel of sinagoge aanbid het, maar hulle gebede was opreg ~ “EN Petrus en Johannes het saam na die tempel opgegaan op die uur van die gebed, die negende uur” (Hand.3:1).

Ons lees in v.6 ~ “Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde.” Hier het Jesus gesê dat ons tyd moet inruim om te bid. Drie punte is van belang t.o.v. hierdie opdrag:
• Gewilligheid: Eerstens, sien ons dat ’n gewilligheid om tyd in te ruim om in privaatheid te bid, teenwoordig moet wees by gelowiges. Jesus en die apostels het vir ons die voorbeeld gestel ~ “En die volgende dag, terwyl hulle op pad was en naby die stad kom, het Petrus omtrent die sesde uur op die dak geklim om te bid” (Hand.10:9). “En vroeg in die môre, nog diep in die nag, het Hy opgestaan en uitgegaan en na ’n eensame plek vertrek en daar gebid” (Mark.1:35). “EN Hy het in daardie dae uitgegaan na die berg om te bid en die nag in die gebed tot God deurgebring” (Luk.6:12).
• Afsondering: Tweedens was ’n plek van afsondering nodig. Ons as gelowiges moet in privaatheid bid – kies ’n plek waar jy in privaatheid kan bid. Jesus en Sy dissipels het hulle afgesonder van ander wanneer hulle gebid het.
• Persoonlike verhouding: Derdens is ’n persoonlike verhouding met God ’n absolute voorvereiste. God is ons Vader; Hy is op dieselfde wyse as aardse vaders, beskikbaar vir Sy kinders. Ons moet tot Hom nader in gebed, en ons binneste met Hom deel en met Hom praat.

Wat beteken al hierdie dinge dan vir ons as kerk van die Here Jesus? Kan ons of mag ons nie saambid nie? Ten einde hierdie vraag te beantwoord moet ons na die oorspronklike Griekse teks gaan kyk en dan sal ons sien dat die voornaamwoord, “jy” of “julle” en in v.5 nie korrek in Afrikaans vertaal is nie – hierdie “jy” moet “julle” (meervoud) wees. In v.7 is dit korrek vertaal met “julle” (Engels is “you” so bietjie moeiliker om korrek te vertaal). In v.6 is die woord weer korrek vertaal, met die enkelvoud “jy.” Hieruit blyk dit dus duidelik dat daar plek is vir privaat gebed, maar ook vir gesamentlike gebed. Ons sien in Hand.12:12 dat die vroeë kerk gereeld saam gebid het ~ “En nadat dit vir hom duidelik geword het (dit was Petrus), kom hy by die huis van Maria, die moeder van Johannes wat ook Markus genoem word, waar baie in die gebed bymekaar was” (sien ook: Hand.2:42; 13:3; 14:23; 20:36).

Kom ons kyk nou na die gebed self.

4. DIE INLEIDING (v.9a):
Ons vind die inleiding van die “Dissipels se Gebed” in v.9.
• Onse Vader (v.9a): Jesus het ons nie geleer om te bid, “My Vader in die hemele” nie, maar “Onse Vader…” Hierdie is nog ’n verdere bewys dat ons as gelowiges ook gesamentlik moet bid. Die uitdrukking “Onse Vader” dui nog verder daarop dat gebed deur gelowiges alleen gebid kan word. “Vader” dui op ’n deel wees van God se familie, wat wedersydse vertroue impliseer, asook ’n vaderlike omsien na Sy kinders en dit impliseer ook ’n gekwalifiseerde verantwoordelikheid om te voldoen aan bepaalde versoeke – versoeke natuurlik wat volgens God se wil gerig word.

Ons as gelowiges nader dus tot die… ~ “…een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in julle almal is” (Ef.4:6). Wanneer ons hierdie woorde lees, kan dit nogal klink asof Paulus impliseer dat God, die Vader van alle mense is. Dit is egter nie die geval nie. Dit is wel waar dat God iets van ’n Vader is vir die ganse skepping omdat Hy die Skepper daarvan is, maar die Bybel gebruik as ’n reël nie die woord “Vader” wanneer dit kom by God as Skepper nie (Hand.17:24-29; Hebr.12:9; Jak.1:17). Hierdie benaming word egter deurgaans deur die Skrif gereserveer vir diegene wie geestelike kinders geword het deur geloof in Sy Seun, Jesus Christus. In plaas daarvan om Vader vir almal te wees, is Hy die Vader van Sy eie kinders, deur die genadige skenking van wedergeborenes aan Sy uitverkorenes.

Die feit dat ons die Here, “Vader” mag noem, het ’n omvangryke betekenis. Die Puritein, Thomas Watson vra die volgende vraag in sy studie oor Matt.6, “waarin lê ons vreugde opgesluit om God as Vader te mag hê?” Hy antwoord die vraag met ’n lys van 20 punte, waarvan ek enkeles sal uitlig. As ek dit nou lees, wil ek vra dat jy die “Onse Vader”, of die “Dissipels se Gebed” heeltyd in gedagte hou en kyk of jy die verbintenis kan sien: Indien God ons Vader is…” (kan ek dit asb. in Engels aanhaal?):
“If God be our Father…”.
o “If God be our Father, He will teach us.”
o “If God be our Father, He has bowels of affection towards us.”
o “If God be our Father, He will be full of sympathy.”
o “If God be our Father, He will take notice of the least good He sees in us; if there be but a sigh for sin, He hears it ~ “O Lord, all my longing is before you; my sighing is not hidden from you.” (Ps.38:9). If but a penitential tear comes from the eye He sees it ~ “In all their affliction he was afflicted” (Is.63:9).”
o “If God be our Father, He will take all we do in good part.”
o “If God be our Father, He will correct us in measure (Jer.30:11 ~ “I will discipline you in just measure,”). This He will do in two ways. It shall be in measure, for the kind.”
o “If God be our Father, He will intermix mercy with all our afflictions.”
o “If God be our Father, the evil one shall not prevail against us.”
o “If God be our Father, who real evil shall befall us.”
o “If God be our Father, we may go with cheerfulness to the throne of grace.”
o “If God be our Father, He will stand between us and danger.”
o “If God be our Father, we shall not want anything that He sees to be good for us.”
o “If God be our Father, All the promises of the Bible belong to us.”
o “If God be our Father, God makes all His children conquerors.”
o “If God be our Father, He will now and then send us some token of His love.”
o “If God be our Father, He will indulge and spare us.”
o “If God be our Father, He will put honour and renown upon us at the last day.”
o “If God be our Father, He will settle a good inheritance upon us.”
o “If God be our Father, it is a comfort in case of the loss of relations.”
o “If God be our Father, He will not disinherit us.”

God die Vader is inderdaad ons Vader! Kinders vertrou hul aardse vaders vir versorging en beskerming en daarom kan ons soveel te meer vertrou dat Hy ook in ons behoeftes sal voorsien – geestelik, fisies en materieel – laat ons op Hom vertrou vir ons behoeftes. Indien Jesus se woord in Luk.12:24 waar is (en dit is omdat Sy Woord so sê!), dan sal ons hemelse Vader ’n Voorsiener, Instandhouer en Beskermer wees van diegene wie Hy lief het ~ “Kyk na die kraaie, want hulle saai nie en hulle maai nie; hulle het geen voorraadkamer of skuur nie, en tog voed God hulle. Hoeveel meer is julle nie werd as die voëls nie!” V.27 ~ “Kyk na die lelies, hoe hulle groei: hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle, selfs Salomo in al sy heerlikheid was nie bekleed soos een van hulle nie.” Ons moet egter net onthou dat alles binne Sy wil moet en sal geskied – Geen “name it and claim it” nie – dít is nie Bybels nie.
• In die hemele (v.9a): Ons vind die tweede deel van die inleidende gedeelte van hierdie gebed in v.9b ~ “…in die hemele.” Ons moet ook in hierdie geval daarop let dat die Griekse woord “hemel” hier in die meervoud geskryf is (die NAV vertaal dit foutiewelik in die enkelvoud). Die uitdrukking “in die hemele” dui derhalwe daarop dat God nie beperk is tot ’n bepaalde- of enkele plek nie, omdat Hy oneindig en alomteenwoordig is. Hy vul die ganse hemele en aarde, nie omdat Hy so betrokke is daar, dat Hy nie elders ook is nie, maar omdat 1 Kon.8:27 vir ons sê ~ “Sou God werklik op die aarde woon? Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie, hoe dan nog hierdie tempel wat ek gebou het!” Die betekenis hiervan is dat Hy hoofsaaklik in, wat die Apostel noem, die derde hemel is waar Hy Sy heerlikheid teenoor die heiliges en engele betoon (2 Kor.12:2).

Ons lees in Ps.139:7-10 die volgende ~ “Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom? Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar. Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, ook daar lei u hand my, hou u regterhand my vas.” Jesus praat nie minder as veertien keer van God as die “Vader in die hemel,” bv. Matt.5:16 ~ “Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.” Mark.11:25 ~ “En wanneer julle staan om te bid, en julle het iets teen iemand, vergewe hom; dan sal julle Vader wat in die hemel is, julle ook julle oortredings vergewe” (sien ook: Matt.5:45; 6:1,9; 7:11; 10:32,33; 12:50; 16:17; 18:10,14,19; Luk.11:13). Terwyl God oral is, is die hemel in ’n sekere sin Sy woonplek, waar Sy heerlikheid volmaak gesien en volmaak erken word (Gen.24:7; Hand.7:49).

Verder is die hemel die vertrekpunt vanwaar alles op aarde beskou word ~ “Die Here kyk uit die hemel en sien al die mense. Van die plek waar Hy as koning sit, sien Hy almal wat onder op die aarde woon. Dit is Hy wat hulle verstand gevorm het, wat al hulle werk deurgrond” (Ps.33:13-15). Dit is vanuit die hemel dat die Vader praat ~ “Daar was ook ‘n stem uit die hemel wat gesê het: ‘Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My’” (Matt.3:17). Dit is vanuit die hemel dat die Vader Sy hulp stuur (Ps.57:3) en die hemel is die plek vanwaar Sy seën uitgestort word (Mal.3:10).

5. GEVOLGTREKKING EN TOEPASSING:
Geliefdes, wat is die implikasie van vanoggend se lering?

Ek het begin deur te kyk na wat ons NIE moet doen nie. Ons moet versigtig wees om nie grootdoenerig te wil wees in ons gebede nie, m.a.w. ons moet nie die fokus op ons wil vestig nie (wil gesien en gehoor word). Johannes het in Joh.3:30 gebid ~ “Hy moet meer word, maar ek minder.”

Die tweede ding waaroor ons gewaarsku word is ’n ydele herhaling van woorde – laat ons waaksaam wees en met die regte gesindheid bid – nie met onverskilligheid of trots nie, maar in diepe opregtheid.

Dít is wat ons nié moet doen nie. Wat móét ons doen?
o Gewillig.
o Afsondering.
o ’n Persoonlike verhouding.

Wanneer ons volgens die “Dissipels se Gebed” (let op dat ek nie sê, “wanneer ons hierdie gebed bid” nie, maar “volgens hierdie gebed bid”). Wanneer ons volgens of n.a.v. die “Dissipels se Gebed” bid, moet ons in gedagte hou dat die naam “Vader,” die sleutelwoord is. Begin derhalwe bid deur jou gebed tot God die Vader te rig – jou Vader wie jy ken. Prys Hom vir wie en wat Hy is. Dank Hom dat jy deel van Sy familie kan wees. Dank Hom dat Hy jou uit genade gered het. Prys Sy Naam vir alles wat gevolg het ná jou wedergeboorte en wat nog op jou wag – hier, nou en in die toekoms.

’n Woord van waarskuwing egter. Ons moet onthou om om baie versigtig te wees om nie skuldig te wees aan die derde gebod nie ~ “Jy mag die Naam van die Here jou God nie ydellik gebruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie” (Eks.20:7).

Judaïsme het die misbruik van God se Naam tot so ’n mate gevrees dat die Jode slegs die hoë priester toegelaat het om God se Naam te gebruik en slegs op die Groot Versoendag. Soos wat Jesus met die ander gebooie gedoen het, het Hy ook die derde gebod uitgesonder ten einde eerbied vir God se heilige naam te beklemtoon. Die ydele herhaling van God se Name (bv. God, Here, Jesus, ens.) in aanbidding (beide gebed en sang) is ’n duidelike oortreding van die derde gebod, alhoewel ek glo dat in die meeste gevalle dit nie doelbewus gedoen word nie. Dit is ’n oortreding wanneer ons hierdie Name as ’n blote cliché gebruik en/of as stopwoord aan die einde van bykans elke sin gebruik – ons moet dink wanneer ons bid.

Leer meer oor God se karakter deur die betekenis van Sy Name te verstaan en dink aan hierdie karakter eienskappe wanneer jy Hom prys en loof in jou gebede [lw. ’n uitstekende boek waar jy meer kan leer van God se karakter eienskappe (attribute), is dié van J.I. Packer met die titel, “Knowing God” – ook beskikbaar in Afrikaans – “Om God te Ken”].

Waaroor ek die meeste opgewonde is oor vanoggend se lering, is dat ons kan leer om hierdie “model- of templaatgebed” te kan gebruik as riglyn oor hoe om te bid. Neem bv. die 20 punte waarna ek verwys het.

Wanneer ek bid, “Onse Vader,” moet ek myself herinner aan alles wat ’n vader is en meer nog wie en wat God die Vader is – en bid dít spesifiek (hou m.a.w. die “modelgebed” in gedagte wanneer jy bid, maar bid “rondom” of n.a.v. dit).

Gebruik hierdie riglyne en bedink dit deurgaans deur die dag. Vra die Heilige Gees om jou hieraan te herinner en dit te memoriseer ~ “…maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het” (Joh.14:26). Heb.10:16 hou ook ’n wonderlike belofte vir ons in ~ “Dit is die verbond wat Ek met hulle sal sluit ná dié dae, spreek die Here verder: Ek sal my wette gee in hulle hart, en in hulle verstand sal Ek dit inskrywe.” En wanneer dit gebeur, dan word Joh.7:38 waar ~ “Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.”

Mag onse God, die Vader verheerlik word!

Post a comment