Die Bybelse Feesdae van Israel ~ 04 (“Die 3de Feesseisoen – Die Loofhuttefees”)

Die Bybelse Feesdae van Israel ~ 04 (“Die 3de Feesseisoen – Die Loofhuttefees”)

1. INLEIDING:
Ons het die afgelope drie Sondae na die eerste twee fees seisoene van die Israeliete gekyk en ons gaan nog die volgende twee Sondae D.V. na nog twee feeste kyk. Dit is nie net interessante feite wat aan ons deur die Woord voorgehou word nie, maar ek dink dit is ook uiters belangrik dat ons sal kyk na hoe hierdie feeste in Jesus Christus vervul is, omdat ons gedurig hoor van gelowiges in sommige kerkgenootskappe wat hierdie feesdae steeds onderhou omdat hulle glo dat dit die regte ding is om te doen, omdat dit kwansuis Bybels is. En ja, dit is Bybels, maar wat hulle nie besef nie, is dat al hierdie feesdae reeds vervul is en dat ons as gelowiges dit nie meer hoef te onderhou nie.

Kom ons kyk vanoggend na die Loofhuttefees en daarvoor wil ek hê dat ons saam na Esra 3 sal blaai.

2. SKRIFLESING:
Esra 3:1-13 ~ “Toe die sewende maand aanbreek, was die Israeliete dus oral in die stede. Hulle het egter soos een man in Jerusalem bymekaargekom, 2 en daar het Jesua seun van Josadak en sy ampsgenote die priesters, en Serubbabel seun van Sealtiël en sy helpers die altaar van die God van Israel weer opgebou. Die altaar was bedoel vir die brandoffers soos dit voorgeskryf is in die wet van Moses, die man van God. 3 Ten spyte van hulle vrees vir die ander bevolkingsgroepe in die land het hulle die altaar op sy oorspronklike plek opgerig en daarop brandoffers vir die Here gebring, soggens en saans. 4 Hulle het ook die huttefees gevier soos dit voorgeskryf is en elke dag die vasgestelde hoeveelheid brandoffers gebring. 5 Behalwe die gereelde brandoffers het hulle van toe af ook die offers by die nuwemaansfeeste en al die vasgestelde gewyde feeste van die Here gebring, en ook elkeen se vrywillige offers aan die Here. 6 Hulle het brandoffers vir die Here begin bring op die eerste dag van die sewende maand. Die fondamente van die tempel van die Here was nog nie gelê nie. 7 Hulle het toe klipkappers en ander vakmanne gehuur en die Sidoniërs en Tiriërs met kos, drank en olie betaal om uit die Libanon sederhout met die see langs na Joppe toe te bring. Dit was in ooreenstemming met die vergunning van koning Kores van Persië. 8 In die tweede jaar na hulle aankoms by die tempelterrein in Jerusalem, in die tweede maand, het Serubbabel seun van Sealtiël, Jesua seun van Josadak, en hulle helpers, die priesters, die Leviete en almal wat uit die ballingskap na Jerusalem toe teruggekom het, met die werk begin. Hulle het die Leviete van twintig jaar en ouer aangestel om toesig te hou oor die werk aan die huis van die Here. 9 Jesua, sy seuns, sy ampsgenote, die Judeërs Kadmiël en sy seuns, en ook die Leviete uit die nageslag van Genadad met hulle seuns en ampsgenote was saam in bevel van die mense wat die werk aan die tempel moes uitvoer. 10 Toe die bouers die fondamente van die tempel van die Here klaar gelê het, het die priesters in ampsdrag reggestaan met trompette, en die Leviete van die Asafgroep met simbale, om die Here te loof soos koning Dawid van Israel bepaal het. 11 Hulle het die Here begin loof en dank: “Want Hy is goed, aan sy liefde vir Israel is daar geen einde nie.” Die hele volk het dit tot lof van die Here uitgejubel, want die fondamente van die huis van die Here was gelê. 12 Baie van die oueres onder die priesters, die Leviete en die familiehoofde wat nog die eerste tempel geken het, het hardop aan die huil gegaan toe hulle sien hoe die fondamente van hierdie tempel gelê word. Baie ander het luidkeels van vreugde gejubel. 13 Niemand kon die gehuil tussen die blye gejubel deur hoor nie, so hard het die mense gejubel. Dit kon van ver af gehoor word.”

3. DIE HERBOU VAN DIE ALTAAR:
Nadat die ballinge uit Babel uit terug gekeer het, was hul eerste taak om die altaar vir die brandoffers te herbou, want dit was van die uiterste belang dat die volk heel eerste versoening vir hul sonde moes ontvang en tweedens om God se seën te kon ontvang voor die aanvang van die bouwerk van die verwoeste tempel. Hierdie altaar sou op dieselfde plek gebou word as die vorige een. Hierdie taak was noodsaaklik, sodat die volk weer so gou moontlik hulle offersisteem aan die gang kon kry. Dit was juis hierdie offersisteem wat hulle as volk onderskei het van ander volke, maar wat ook deur God gebruik is om Sy sondige kinders met Hom te versoen.

Dit word algemeen aanvaar dat die verwysing na die aanvang van die bouwerk gedurende die sewende maand (v.1), verwys na die tydperk wat verloop het sedert die ballinge se terugkeer uit Babilon en daarom het die bouwerk aan die altaar gedurende September-Oktober ’n aanvang geneem.

4. DIE LOOFHUTTEFEES:
Die sewende maand (“Tishri”) was altyd ’n belangrike maand op die godsdienstige kalender vir die Israeliete, want dit was die derde feesseisoen van die volk van die Here. Die eerste feesseisoen, wat ook bekendstaan as die Pasga, het gedurende die maand van “Nissan” (Maart-April) plaasgevind en dit het gepaard gegaan met die garsoes en hierdie seisoen het uit drie feeste bestaan, nl. die Pasga (Lev.23:5) en twee sub-feeste, nl. die Fees van die Ongesuurde Brode (Lev.23:6) en die Fees van die Eerstelinge (Lev.23:10).

Die tweede feesseisoen vind plaas gedurende die Hebreeuse maand, “Sivan” (Aug.-Sept.), en dit is tydens die koringoes. Soos ons verlede week gesien het, het hierdie tweede fees bekend gestaan as die Pinksterfees (Lev.23:15-16).

Die derde feesseisoen is gedurende die finale insameling in die Hebreeuse maand “Tishri” (die sewende maand) gevier en dit staan bekend as die Loofhuttefees (“Sukkot” in Hebreeus; “Feast of the Tabernacles” in Engels) en die Loofhuttefees bestaan uit drie sekondêre feeste, nl. die Fees van die Basuine/Trompette (Lev.23:23-25; “Feast of the Trumpets”) wat op die eerste dag plaasgevind het. Op die tiende dag is die tweede fees gevier nl. die Groot Versoendag (Lev.23:26-32; “Day of Atonement”). Gedurende die 15de tot die 21ste dag, is die Loofhuttefees gevier (Lev.23:33-36, 39-43; Num.29:12-39). Dit was tydens hierdie Loofhuttefees dat die altaar herbou is. Ons sal D.V. volgende Sondag na die Versoendag en die Loofhuttefees kyk.

Dit is belangrik dat ons daarop sal let dat dit nie in die eerste plek met hierdie feesdae, gegaan het oor eet en drink en allerlei genietinge nie. Nee, dit was godsdienstige feesdae ten einde met God te ontmoet en wel op ’n baie spesiale wyse en daardeur, seën van God te ontvang soos wat Hy belowe het, soos bv. die versoening wat tussen God en die volk bewerkstellig word tydens die Versoendag.

Dit is ook so dat die Israeliete allerlei fisiese praktyke en rituele moes onderhou tydens die feestye (bv. vas, rus van werk, in spesiaal geboude hutte bly, ens.), maar die doel met hierdie aktiwiteite was juis ingestel, sodat hulle enersyds, bepaalde geestelike waarhede kon aanleer t.o.v. hulle verhouding met God, maar andersyds (en dit is belangrik) was die feestye ingestel om die volk te herinner aan hulle Messias, Jesus Christus wat nog sou kom, want Hy sou die oorgang wees van die fisiese na die geestelike.

Hierdie feestye was van kritieke belang in die lewe van die volk van God, want dit het God se handelinge met die Hebreërs as volk van God gedenk. Dit simboliseer dus belangrike ontmoetings tussen God en Sy verbondsvolk.

5. DIE FEES VAN DIE BASUINE:
Die herbou van die offeraltaar vind dan plaas gedurende hierdie derde feesseisoen. Wat is die betekenis van hierdie feestyd vir die volk? Eerstens kyk ons na die Fees van die Basuine en uiteraard a.g.v. ’n gebrek aan tyd, kan ons nie naastenby in die fynste besonderhede ingaan nie en sal ons net die belangrikste eienskappe uitlig.

God wou met die Fees van die Basuine, Sy volk leer om in Hom te rus – om by die plek in hul wandel met Hom te kom, waar hulle berusting en tevredenheid in Hom sal vind, omdat Hy die God van die heelal is. In Lev.23:24-25 het die Here die volgende vir Moses gesê ~ “Sê vir die Israeliete: Die eerste dag van die sewende maand moet ’n rusdag wees, ’n gedenkdag wat met die blaas van ramshorings aangekondig word, ’n gewyde byeenkoms. 25 Niemand mag dan werk nie en julle moet offers aan die Here bring.” Hier sien ons die instelling en begin van die Fees van die Basuine. Die Israeliete was in die woestyn na hul uittog uit Egipte en hulle kamp by die Berg Sinaï, waarop God aan hulle opdrag gee om hierdie gedenkdag in te stel.

Ons sien in Num.10:10 dat die eerste dag van elke nuwe maand, met die blaas van trompette aangekondig is, maar die eerste dag van die maand Tishri (Sept.-Okt.) was ’n besondere dag en daarom is die basuine ekstra lank en hard geblaas. Waarom? Omdat dit die aanvang van die Loofhuttefees aangekondig het en spesifiek, die begin van die sekondêre fees, nl. die Fees van die Basuine. Volgens die Joodse kalender was hierdie ook die begin van die nuwe jaar, of te wel die “Rosh Hoshanah”. Daar was van die volk verwag om op te trek na Jerusalem vir hierdie fees.

Hierdie was ’n tyd waar elke individu ervaar het dat hy voor die regterstoel van God gestaan het en derhalwe vergifnis en reiniging by God gesoek het. In teenstelling met die ander feeste wat vreugdevol was, was hierdie fees ’n tyd van diep en intense selfondersoek, soos wat dit enige mens betaam wanneer hy in die teenwoordigheid van die Almagtige Regter en Heerser van die heelal verskyn, ten einde te smeek dat die Regter sy lewe sal spaar.

Die blaas van die horing was dus ’n oproep tot sondebesef en -belydenis. Ons vind ’n voorbeeld hiervan in Joël 2:15 waar die volk opgeroep is tot ’n gesamentlike vasdag. Die Fees van die Trompette gaan egter nie net oor veroordeling en sondebelydenis nie – dit herinner ook aan God se genade en daarom word die volk in hierdie tyd ook opgeroep om voor te berei vir die volgende fees, nl. die Groot Versoendag, waar God se genade en vergifnis gevier word.

Die uitstaande kenmerk van die volk wat in Jerusalem byeenkom na die ballingskap, was dan juis om as nuwe nasie/volk in ’n nuwe verhouding met die Verbondsgod van Israel te tree en daarom is dit so gepas om hierdie herstel van hulle verhouding met God te begin met die herbou van die offeraltaar tydens die Fees van die Basuine.

Ons sien in v.1b dat die volk “…soos een man in Jerusalem bymekaargekom (het).” Die volk is byeen en hulle stem saam dat die bouprojek ’n aanvang moet neem. Die manne wat die bouwerk gelei het, was Jesua, die geestelike leier en afstammeling van Aäron, asook Serubbabel, die openbare leier en afstammeling van Dawid. Dan was daar natuurlik ook al die ander betrokkenes soos ons gesien het uit ons gelese gedeelte, nl. die ander priesters (afstammelinge van Aäron) en die ander afstammelinge van Dawid. Die bouwerk het begin met die bou van die altaar en hoe gepas is dit nie om juis in hierdie tyd van feesvieringe en offerandes, te begin met die offeraltaar! Dit was noodsaaklik dat die ballinge sou terugkeer na die Mosaïese verbond, want hulle voorouers het hulle rug gekeer op hierdie baie belangrike verbond en hulle wou seker maak dat hulle nie dieselfde fout weer begaan nie.

Ten spyte van die ballinge se vrees vir die vreemdelinge wat tussen hulle gebly het (vv.3-6), het hulle steeds voortgegaan met die bouwerk en hulle offerandes, want vertroue in- en belydenis van ’n almagtige en soewereine God was tog immers deel van die Fees van die Basuine.

Ons sien in vv.7-9 dat die bouwerk eers in die tweede maand van die tweede jaar na hulle terugkeer uit Babel begin het (ongeveer Mei-Junie 536 v.c. – dit was presies 70 jaar na die eerste wegvoering van die ballinge). Die rede hiervoor was dat daar heelwat voorbereidingswerk was wat gedoen moes word – so moes hulle bv. eers sederhout uit Libanon laat kom en hierdie boomstompe het per skip, kuslangs tot by Joppe gekom, waarna dit oor land na Jerusalem vervoer is. Dit is baie interessant om te sien dat Salomo, 430 jaar vantevore ook baie van sy hout vir die eerste tempel, van Libanon laat kom het (1 Kon.5:1-10, 18; 2 Kron.2:1-16) en die bouwerk aan die tweede tempel het gedurende dieselfde tyd as Salomo se bouwerk aan sy tempel, begin. Ons weet natuurlik ook dat hierdie tweede tempel in 70 n.C. verwoes is.

Daar word nie vir ons meer inligting verstrek t.o.v. die bouwerk nie, maar wat ons wel in vv.10-11 sien, is dat die tradisies van die voorgeslagte wat in die regte verhouding met God gestaan het, noukeurig nagevolg is. So bv. is die volgorde van seremonies en gebruike nagevolg wat deur Dawid ingestel is toe die ark teruggebring is na Jerusalem. Terwyl die bouwerk aan die gang was het die priesters en die Leviete, die lied gesing wat gegrond was op 2 Kron.5:13 en Ps.136:1, nl. ~ “Want Hy is goed, aan sy liefde vir Israel is daar geen einde nie” (vv.10-11). Al die mense was egter nie ewe opgewonde en vol blydskap oor die gebeure in Jerusalem nie – ons sien dit in vv.12-13 ~ “Baie van die oueres onder die priesters, die Leviete en die familiehoofde wat nog die eerste tempel geken het, het hardop aan die huil gegaan toe hulle sien hoe die fondamente van hierdie tempel gelê word.” Hoe weet ons dat hierdie nie trane van blydskap was nie? Omdat die laaste gedeelte van v.12 en v.13 sê ~ “Baie ander het luidkeels van vreugde gejubel. 13 Niemand kon die gehuil tussen die blye gejubel deur hoor nie, so hard het die mense gejubel. Dit kon van ver af gehoor word.” Dit is moontlik dat die ouer mense gehuil het, omdat hulle gedink het dat die nuwe tempel nie dieselfde sou lyk as die ou verwoeste tempel nie. Dit bly egter tragies dat ’n mens altyd mense tussen jou kry wat die teenoorgestelde emosies beleef as wat ’n mens sou dink die geval moes wees. In hierdie geval het dit waarskynlik gebeur omdat hulle die nuwe bouwerk vergelyk het met die majestueuse eerste tempel van Salomo, maar mag dit ’n les vir ons wees dat ons nie voortdurend moet terugkyk nie, maar vooruit en betrokke sal wees met dít waarmee die Here op die oomblik besig is.

6. DIE FEES VAN DIE BASUINE EN ONS:
Die vraag wat ons vir onsself moet afvra is wat ons as Nuwe Testamentiese gelowiges, wat deel uitmaak van die nuwe verbond, te doen staan? Wat moet ons met die Fees van die Basuine maak?
• Eerstens moet ons besef (soos vroeër reeds vermeld), dat ons van hierdie feeste kennis moet neem, maar ons moet onthou dat Jesus Christus reeds gekom het en dat Hy hierdie feeste dus vervul het met die aanbreek van die nuwe verbond en daarom hoef ons nie meer hierdie feeste en allerlei rituele te onderhou nie, want ons het nou direkte toegang tot God ons Vader, deur Jesus Christus. Jesus stel dit baie duidelik aan ons in Joh.14:9 wanneer Hy sê ~ “Ek is al so lank by julle, en ken jy My nie, Filippus? Wie My sien, sien die Vader. Hoe kan jy dan sê: ‘Wys vir ons die Vader’ Elkeen wat Jesus dus “gesien het” (wedergeboorte), het die Vader gesien.
• Tweedens – Omdat God dikwels deur die blaas van basuine, met die volk gepraat het, het hulle ook begin praat van God as “die horing van hulle heil” (Ps.18:1-3; 2 Sam.22:3). Johannes die Doper noem Jesus ook “’n horing van heil” (Luk.1:69 – O.A.V.). Dit is hierdie “horing van heil” (Jesus Christus) wat die ware Aanvoerder van God se leërmagte is. Soos wat God in die Ou Testamentiese tyd die stryd gevoer het teen Israel se vyande, het Jesus Christus die stryd teen ons vyand die satan gevoer en gewen – ons lees in Kol.2:15 dat Christus “…elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer.”
• Derdens hou die Fees van die Basuine verband met die geestelike stryd wat ons as gelowiges in hierdie lewe moet stry. Ons is ’n bedreiging vir die satan as ons in die krag van God lewe en optree. Om te leer hoe om in die oorwinning van Jesus Christus, ons “horing van heil” te lewe, is ’n voorvereiste om uiteindelik die rus van God te betree, daarom sê Paulus in 2 Kor.10:3-4 ~ “Natuurlik leef ons in ’n menslike liggaam, maar ons voer nie die stryd met menslike wapens nie. Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die redenasies.” En om hierdie wapens te kan gebruik, moet ons, ons krag in die Here en in Sy groot mag soek en dan gaan Paulus voort in Ef.6:11-12 en sê hy ~ “…trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.”

Om dus op te som:
• Ons het gesien dat dit wel belangrik is om kennis te neem van die Ou Testamentiese feeste, maar ons as gelowiges het genadiglik geen verpligting om hierdie feeste en offers te gedenk en in stand te hou nie, want Christus het al hierdie feeste en offers vervul deur Sy kruisdood en opstanding – die Ou Verbond is dus volledig vervul deur die Nuwe Verbond.
• Gedurende die 17de eeu het sommige van ons se voorgeslagte uit Europa gevlug a.g.v. vervolging vir hul protestantse geloof en hulle het o.a. na Suid-Afrika gekom en stewige fondasies vir die Christelike geloof in hierdie kontinent kom vestig. Moet ons nie dalk ook, soos die destydse Israeliete wat teruggekeer het na Jerusalem uit ballingskap, ook bely dat ons nie die “fakkel van die Evangelie” geneem het en verder gedra het en selfs aangegee het? Het ons nie ook soos die Israeliete in die Diaspora, afgedwaal van ons Christelike wortels (meer bepaald, ons Gereformeerde oortuigings) nie en ons, ons opnuut weer sal toewy aan Christus Jesus nie?
• Ons is God se Tempel. Die ou tempel is afgebreek en die nuwe tempel is gebou, met Christus as stewige fondasie… ~ “So sê die Here my God: ‘Ek gaan in Sion ‘n klip neersit, ‘n uitgesoekte klip, ‘n hoekklip wat fondament aan fondament sal sluit. Wie op My vertrou, hoef nie te vlug nie.’” (Jes.28:16). Hier sien ons baie duidelik dat “die hoekklip”; “die fondasie,” Jesus Christus is en ons is in Hom gevestig en daarom kan ons verseker weet dat die satan inderdaad oorwin is deur ons “Horing van heil.”
• Die woorde van Paulus in 2 Tim.2:19 moet ons egter ook vul met blydskap, dankbaarheid en sekuriteit ~ “Nogtans, die hegte fondament wat God gelê het, staan vas met dié woorde daarop gegraveer: ‘Die Here ken dié wat aan Hom behoort,’ en: ‘Elkeen wat sê dat hy aan die Here behoort, moet wegbreek van die ongeregtigheid.’”

Kobus van der Walt

Post a comment