Die Bybelse Feesdae van Israel – 03 (Die 2de Feesseisoen – Die Pinksterfees)

Die Bybelse Feesdae van Israel – 03 (Die 2de Feesseisoen – Die Pinksterfees)

1. INLEIDING:
Ons het verlede week na die eerste hooffees van die Israeliete gekyk, nl. die Pasga of Paasfees. Ek het ook gesê dat daar nog twee ander hoof feeste was, nl. die Pinksterfees, asook die Grootversoendag, met sub-feeste.

Die Paasfees (Pasga of die “Pesach”), het uit twee subfeeste bestaan:
– Die fees van die Ongesuurde Brode (vind plaas saam met die “Pesach”);
– Die fees van die Eerste Vrugte (“Bikkurim”).
• Die tweede hooffees was die Pinksterfees (Die fees van die Weke – “Sjevu’ot”).
• Die derde hooffees, nl. die Loofhuttefees (“Sukkot”) het ook uit twee subfeeste bestaan, nl.:
– Die Fees van die Trompette (Nuwe Jaar – “Rosh Hashanah”);
– Die Groot Versoendag (“Yom Kippur”);

Ons gaan vandag na die Pinksterfees kyk wat gedurende die sesde maand, of te wel die maand Sivan plaasvind (tussen Mei en Junie). Hierdie is ook die maand waartydens die koringoes van die lande afgehaal is (ook bekend as die Fees van die Weke – Hebreeus = Sjevu’ot; Engels = “The Feast of the Weeks/Harvest”).

Kom ons blaai na Lev.23 en lees van die instelling van die Pinksterfees.

2. SKRIFLESING:
Lev.23:15-21 ~ “Van die dag ná die sabbat af, die dag waarop julle die are as beweegoffer vir die Here aanbied, moet julle sewe volle weke tel. 16Die dag ná die sewende sabbat, op die vyftigste dag, moet julle vir die Here ’n graanoffer bring uit die pas geoeste graan. 17Elke gesin moet twee brode vir ’n beweegoffer na die heiligdom toe bring. Dit moet van drie kilogram meel met suurdeeg gebak wees en is ’n gawe aan die Here uit die eerste opbrengs van die oes. 18Behalwe al die brode moet daar ook sewe jaaroud lammers sonder liggaamsgebrek, ’n jong bul en twee ramme gebring word. Hulle moet as brandoffers aan die Here gebring word met die graanoffer en die drankoffers wat daarby behoort. Dit is ’n offer wat deur My, die Here, aanvaar word. 19Julle moet ook ’n bokram as sondeoffer bring en twee jaaroud lammers as maaltydoffer. 20Die priester moet die twee lammers saam met die brode uit die eerste opbrengs van die oes as beweegoffer vir die Here aanbied. Dit is ’n gewyde gawe aan die Here en dit kom die priesters toe. 21Op hierdie dag moet julle ’n gewyde byeenkoms hou. Niemand mag dan werk nie. Dit moet vir altyd ’n vaste instelling wees, waar julle of julle nageslag ook al woon. 22“Wanneer julle julle lande oes, moet julle nie die wenakkers afoes of die are wat bly lê, optel nie. Julle moet dit los vir die armes en die vreemdelinge. Ek is die Here julle God.”

3. DIE FEES VAN DIE WEKE:
Die Pinksterfees het sewe weke lank geduur en soos ons uit ons Skrifgedeelte gesien het, moes verskeie offers gedurende hierdie tyd gebring word, waarvan die belangrikste, die Beweegoffer was (v.20). Hierdie offer moes van fynmeel met suurdeeg gemaak word – die enigste keer dat brood met suurdeeg aan God geoffer was. Dit moes deeglik gesif word om enige moontlike growwigheid te verwyder. Hierdie offer was ook ’n dankoffer, want dit het weereens die volk se afhanklikheid vir hulle daaglikse brood van die Here beklemtoon.

Later, toe die Jode versprei was oor die wêreld, het die Pinksterfees sy primêre doel as Oesfees verloor, want in “die Diaspora” (die Ballinge of die Jode in die Verstrooïïng) was daar baie min Jode wat betrokke was in boerdery en was daar dus nie veel rede tot feesviering vir die oes wat van die lande af gekom het nie.

Die Jode beweer dat God die Wet aan Moses gedurende hierdie Pinksterfees gegee het en hulle staaf hulle bewerings op grond van noukeurige berekenings. Ons lees in Eks.19:1 dat die Jode in die woestyn Sinaï opgedaag het gedurende die derde maand (“Sivan”) en moontlik op die derde dag. Drie dae later op die sesde “Sivan”, het God op Sinaï, die Wet aan Moses gegee (v.11). Hierdie tyd het dan ook onder die volk bekend gestaan as “Die Seisoen van die gee van die Wet.” Hierdie geleentheid kan dus gesien word as die ontstaan van die Judaïsme (die Joodse geloof), omdat die Judaïsme hoofsaaklik wentel om die Wet van Moses.

Ons sien hier in ons gelese teks, dat daar sprake is van twee brode. Die eerste brood het die volk van God verteenwoordig, terwyl die tweede brood verteenwoordigend was van die heidene. Waarom is hier ’n tweede brood in die offerproses gebruik? So vroeg as Sinaï het God al vir die volk Israel laat verstaan dat hulle nie die alleenreg op God het nie en dat God ook heidene onder Sy genadeverbond insluit. Die Jode was egter blind vir hierdie faset van God se genade – soveel so dat selfs die Jode wat Christene geword het gedurende die eerste eeu na Christus, gesukkel het om hierdie feit in die gesig te staar, daarom dat God in Hand.10 en 11 aan Petrus verskyn het en aan hom ’n gesig gewys het (die doek wat uit die hemel neergelaat en opgetrek is), nl. dat die heidene ook ’n plek in die Koninkryk van God het en dat hy wat Petrus is, asook die ander Apostels, hul bediening en verkondiging van die Woord moet uitbrei na die heidene en dat die opdrag in Matt.28:19-20, nie net op die Jode van toepassing was nie, maar op alle mense – ook die heidene ~ “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en 20leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”

Terwyl Moses die Wet van God ontvang het en die Joodse godsdiens (Judaïsme) gebore is, het iets tragies onder die volk plaasgevind. Toe Moses van die Berg af terugkeer, het hy gevind dat die volk afvallig geraak het en dat hulle ’n goue kalf gemaak en aanbid het en terselfdertyd het hulle ’n uitspattige fees gevier – hulle rig dus ’n heidense beeld op om as plaasvervanger vir God te dien. Op daardie dag het 3,000 Israeliete gesterf as gevolg van hul beeldaanbidding (Eks.32:28) – hierdie getal is baie belangrik om te onthou, want ons sal netnou weer na hierdie getal verwys.

Nog ’n interessante ritueel rondom hierdie fees, is dat die Jode (tot vandag toe nog), tydens die fees, die verhaal van Rut voorlees. Hulle doen dit om ’n paar redes:
• Eerstens vorm hierdie verhaal ’n pragtige agtergrond vir die oestyd wat in die maand “Sivan” plaasvind, want Rut het ook die oes beleef en dit is dus ’n baie geskikte verhaal om tydens die oestyd te vertel.
• Tweedens vertel hierdie verhaal ook van Rut die heidense vrou, wat die God van Israel deur Naomi haar skoonmoeder, leer ken en liefkry het. Die Jode sien dus uit na die dag wanneer Jood en heiden, God saam sal dien en aanbid deur middel van die Messias-Verlosser.
• Verder trou Boas, wat ’n “tipe-Christus” is, met die heidense vrou Rut om daardeur ook die heidene in te sluit by die “heilige lyn” wat uiteindelik tot by Christus sou lei –Rut, die heidense vrou, word nie net ingesluit in die nageslag van Abraham, Isak en Jakob nie, maar word ook voorgeslag van Dawid en uiteindelik Jesus Christus die Verlosser – en tog verstaan die Jode dit, tot vandag toe nie!

Tydens hierdie Fees van die Weke, word daar ook sewe skaaprammetjies sonder gebrek geoffer, asook ’n jong bul en twee ramme. Ten einde die volk se afhanklikheid van God te demonstreer, moes die twee brode en die twee lammers as Beweegoffer aan die priester gegee word om geoffer te word. Hierdie Beweegoffer is so genoem omdat die priester dele van die offervleis en graan wat geoffer moet word, in die lug “gewaai” het as simbool van toewyding aan God (heen en weer beweeg – Eks.29:24, 26, 27; Lev.7:20-34; 8:27; 9:21; 10:14,15, ens.). Dit word dus ’n aanneemlike offer vir God, omdat Hy die offer aanvaar en daarop die voedsel wat geoes is, seën en ook die volk se sondes vergewe. Nog ’n rede waarom die priester die vleis en graan rondbeweeg, is dat die volk kan sien dat die vleis en graan geoffer word. Die oorblywende vleis en graan kom die priesters toe as voedsel.

Behalwe dat niemand moes werk op die dag wat die offers gebring is nie, moes elke boer ook nog die wenakkers (daardie gedeelte aan die punt van die land, waar die osse omdraai) se graan op die lande gelos het, sodat die armes en die vreemdelinge daardie are kon optel vir hulleself. Dit is dan ook hier op die wenakkers dat Boas vir Rut raakgesien het.

Met hierdie opdragte ten opsigte van die Beweegoffer en die wenakkers, is daar deur die volk ook voorsien in die priesters, armes en vreemdelinge se materiële behoeftes.

4. CHRISTUS VERVUL DIE FEES VAN DIE WEKE:
Hoe het Jesus hierdie fees vervul? In Joh.12:23-24 sê Jesus ~ “Die tyd het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word. 24Dít verseker Ek julle: As ’n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ’n groot oes in.” Jesus praat hier van Homself as ’n menslike koringkorrel wat gaan sterf vir die sondes van die wêreld. Soos ons reeds verlede week gehoor het, was Jesus volkome geregverdig (sonder sonde en in ’n volmaak heilige verhouding met God) en juis omdat Hy volmaak en sonder sonde was, het die dood en die hel geen houvas op Hom gehad nie (Openb.1:18). Die wonderlike is verder dat Jesus as Eersteling uit die dood opgewek is (die Fees van die Eerstelinge waarna ons reeds gekyk het) en presies vyftig dae na Sy opstanding, is die Heilige Gees uitgestort – dit is presies op dieselfde tyd dat die Jode in Jerusalem byeen was vir die Pinksterfees, of te wel die Fees van die Weke!

Ons lees in Hand.2:1-8 die volgende ~ “Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. 2Skielik was daar ’n geluid uit die hemel soos van ’n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. 3Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het. 4Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen. 5Daar het godsdienstige Jode uit al die nasies onder die son in Jerusalem gewoon. 6Toe die mense die geluid hoor, het ’n groot skare saamgedrom. En omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word, het hulle nie geweet hoe hulle dit het nie. 7Verras en verbaas sê hulle toe: “Die mense wat daar praat, is tog almal Galileërs. 8Hoe hoor elkeen van ons dan sy eie moedertaal?”

Die uitstorting van die Heilige Gees het op presies dieselfde dag plaasgevind waarop die Jode die twee brode geoffer het.

Op daardie dag het 3,000 Jode onder die prediking van Petrus tot bekering gekom! Soos wat daar 3,000 in die woestyn by Sinaï gesterf het a.g.v. hulle sonde, red die Here nou 3,000 op hierdie selfde gedenkdag!!

Ons het ook gesien dat hierdie gebeure in Sinaï die geboorte van die Judaïsme was, maar hier op Pinksterdag, terwyl Petrus preek, vind die geboorte van die Nuwe Verbond en daarmee saam die geboorte van die Nuwe Testamentiese kerk plaas! Die Ou Verbond met al sy feeste en seremonies is afgesluit. Die Judaïsme wat gebaseer is op die Wet van Moses word vervang met ’n godsdiens wat gebaseer is op Christus Jesus se soendood en God die Vader se genadeverbond.

Die vervulling van die Beweegoffer waar twee brode heen en weer beweeg is en wat beide die Jode en die heidene verteenwoordig het, vind ons in die samevoeging van beide Joodse gelowige en heidense gelowige, deur die Heilige Gees in die Bruid van Christus – die Nuwe Testamentiese Kerk.

Iets waarna ek netnou verwys het, was die feit dat hierdie twee brode nie ongesuurde brode was nie, maar brode met suurdeeg. Die betekenis hiervan is natuurlik dat die kerk nie onbesproke is nie, trouens dit is vol sonde. Ons sien dit in Lev.2:11 ~ “Geen graanoffer wat vir die Here aangebied word, mag suurdeeg in hê nie. Julle mag geen suurdeeg of heuning verbrand as ’n vuuroffer vir die Here nie.” Die Nuwe Testamentiese kerk sal ook tot en met Christus se wederkoms (Ef.5:27), nie sonder sonde wees nie.

In die Ou Testamentiese Fees van die Weke, is daar tesame met die brode wat geoffer was, ook verskeie vleisoffers gebring en hierdie offers is almal vervul deur die offer wat Christus aan die kruis gebring het.

As Jesus nie gekruisig was en weer opgestaan het uit die dood en opgevaar het na die hemel nie, sou die Heilige Gees nie uitgestort gewees het nie.

Kom ons blaai na Hebr.10:1-18 en dan sien ons hoe Christus hierdie feeste vervul het ~ “Die wet van Moses is slegs ’n skadubeeld van die weldade wat sou kom, nie ’n werklike beeld daarvan nie. Voortdurend, jaar na jaar, word dieselfde offers gebring, en tog kan die wet dié wat die offers bring, nooit volkome van sonde vrymaak nie. 2As dié wat offers bring, eens en vir altyd gereinig en nie meer van sondes bewus was nie, sou hulle immers opgehou het om offers te bring. 3Maar nou herinner die offers juis jaar na jaar aan die sondes, 4omdat die bloed van bulle en bokke onmoontlik die sondes kan wegneem. 5Daarom sê Christus met sy koms in die wêreld: “Dit is nie diereoffer en graanoffer wat U wou hê nie, maar die liggaam wat U My gegee het. 6Brandoffers en sondeoffers het U nie behaag nie! 7Toe het Ek gesê: Kyk, Ek het gekom, o God, om u wil te doen. In die boekrol is dit van My geskrywe.” 8Eers sê Hy: “Diereoffers en graanoffers, brandoffers en sondeoffers wou U nie hê nie en het U nie behaag nie,” hoewel hierdie offers deur die wet voorgeskryf word. 9Daarna sê Hy: “Kyk, Ek het gekom om u wil te doen.” Hy skaf dus die eerste offers af om ’n ander offer in die plek daarvan te stel. 10Omdat God dit so wou, is ons vir Hom afgesonder deurdat Jesus Christus sy liggaam as offer gebring het, eens en vir altyd. 11Verder, elke priester staan dag vir dag sy diens en verrig, en bring elke keer weer dieselfde offers, wat tog nooit die sondes kan wegneem nie. 12Maar Jesus Christus het één offer vir die sondes gebring en vir altyd aan die regterhand van God gaan sit. 13Nou wag Hy daar totdat sy vyande aan Hom onderwerp is. 14Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vrygemaak. 15Ook die Heilige Gees betuig dit aan ons. Eers sê Hy: 16“Dit is die verbond wat Ek met hulle na daardie dae sal sluit, sê die Here. Ek sal hulle my wette in die hart gee, in hulle verstand sal Ek dit skrywe.” 17Dan sê Hy verder: “Aan hulle sondes en hulle oortredings sal Ek nooit meer dink nie.” 18Waar die sondes vergewe is, is geen offer daarvoor meer nodig nie.”

5. AFSLUITING:
Ons het gesien dat daar allerlei rituele plaasgevind het tydens die Pinksterfees – daar was o.a. die Beweegoffer van die Toonbrode; daar was vleis en bloed en vastye, ens. Jesus Christus het egter gekom en al hierdie rituele vervul deur Sy volmaakte offer wat Hy eens en vir altyd gebring het. Ons hoef nie meer al hierdie feeste te vier nie en nog minder hoef ons al hierdie rituele te onderhou – Christus het ook dít alles vir ons vervul en vereenvoudig, deur hierdie rituele te verplaas met twee sakramente, nl. die nagmaal en die doop. Die vraag is egter of ons dit waardeer – of ons werklik dankbaar teenoor Christus is vir die feit dat Hy hierdie feeste en rituele vir ons vereenvoudig het?

Hoe kan ons die waarhede van die Pinksterfees in ons eie lewe toepas? God begeer dat ons Jesus Christus moet ken – waarlik ken. Nie net sal ken as gekruisigde Lam van God wat vir ons sonde gesterf het nie, maar ook as die Lewende Verheerlikte Here.

Die Israeliete het nie ingesien dat die Koninkryk van God ook vir die heidene bedoel is nie – is ons vandag net so blind en net so ongehoorsaam as dit kom by ongelowiges? God wil gewone mense soos ons gebruik om Sy Koninkryk met ywer te verkondig. Ons kan egter nie God se Koninkryk proklameer as ons nie oor ’n grondige kennis van God beskik en met nuwe toewyding en geesdrif volgelinge van Jesus Christus is nie!

Post a comment