Bloed en Versoening – 04 (“Christus, die Aanbieder van ’n Beter Offer”)

Bloed en Versoening – 04 (“Christus, die Aanbieder van ’n Beter Offer”)

1. INLEIDING:
Die Apostel en skrywer van die brief aan die Hebreërs, brei in die eerste sewe hoofstukke uit oor wie die Here Jesus Christus is en hy maak dit baie duidelik dat Christus die Middelaar van ’n beter verbond is – die Nuwe Verbond.

Van 8:1 af, draai die skrywer egter weg van die Persoon van Jesus en begin fokus op Sy werk. In 9:1-14 gee die skrywer vir ons ’n blik op die plek waar die Ou Testamentiese hoë priester gewerk het, nl. die Tabernakel en daarna kyk hy na waar ons ewige Hoë Priester werk, nl. in die teenwoordigheid van God in die ewige hemelse Tabernakel – Jesus is die Hoë Priester van ’n beter Tabernakel.

Die skrywer gaan nou verder in 9:15 en fokus verder op Christus as die “Offeraar”, of Aanbieder van ’n beter Offer.

2. SKRIFLESING:
Hebr.9:15-28 ~ Daarom is Hy ook die Middelaar van ’n nuwe verbond. Sy dood het plaasgevind om mense te verlos van die oortredinge wat onder die eerste verbond begaan is, sodat dié wat geroep is, die beloofde ewige erfenis kan ontvang. 16Dit is soos met ’n testament: daar moet eers bewys word dat die testamentmaker dood is, 17want ’n testament word alleen geldig by die dood van die testamentmaker; dit word nooit van krag so lank as hy nog leef nie. 18Daarom is die eerste verbond ook nie sonder bloed ingestel nie. 19Nadat Moses al die gebooie van die wet aan die hele volk oorgedra het, het hy bloed van kalwers en bokke saam met water geneem en met rooi wol en hisop die wetboek self sowel as die hele volk besprinkel 20en gesê: “Dit is die bloed van die verbond wat God vir julle ingestel het. 21Ook die verbondstent en al die voorwerpe vir gebruik by die erediens het hy op dieselfde wyse met die bloed besprinkel. 22Byna alles word volgens die wet met bloed gereinig, en sonder die vergieting van bloed vind daar geen vergewing plaas nie. 23Die aardse afbeeldings van die hemelse dinge moes dus noodwendig deur hierdie middele gereinig word, maar die hemelse dinge self deur beter offers as hierdie. 24Christus het nie ingegaan in ’n heiligdom wat deur mense gemaak is en net ’n namaaksel van die ware is nie. Nee, Hy het in die hemel self ingegaan om nou ter wille van ons voor God te verskyn. 25Hy het nie ingegaan om Homself herhaaldelik te offer nie, soos die hoëpriester elke jaar die Allerheiligste binnegaan met bloed wat nie sy eie is nie. 26Dan sou Christus immers herhaaldelik moes gely het, reeds van die skepping van die wêreld af. Maar nou het Hy net een keer in die voleinding van die tye verskyn om deur sy offer die sonde weg te neem. 27’n Mens is bestem om net een maal te sterf, en daarna kom die oordeel. 28So is Christus ook net een maal geoffer om die sondes van baie weg te neem. As Hy die tweede keer verskyn, kom Hy nie in verband met sonde nie, maar om verlossing te bring vir dié wat Hom verwag.

3. VOORAF:
Ons moet vooraf ’n paar dinge in gedagte hou en verstaan:
• Die Ou Testamentiese offerstelsel was ’n heenwysing na Christus se offer wat Hy sou bring;
• Die Ou Testamentiese offerstelsel was ’n bloedige affêre. Gedurende die ongeveer duisend jaar wat die ou verbond in plek was, is daar letterlik meer as ’n miljoen diereoffers gebring. As ons in gedagte hou dat daar met die dood van elke bul, nagenoeg 3 tot 4 liter bloed gestort is en met elke bok tussen 1 en 2 liter, dan begin ’n mens besef hoeveel bloed het werklik gevloei. Gedurende die Paastyd, is daar bv. ’n geut of sloot gegrou wat die bloed van die Tempel af weggevoer het na die Kedronspruit – soos R. Kent Hughes dit op ’n keer genoem het, “a sacrificial plumbing system!” Die Kedron was natuurlik dieselfde plek waar baie van die lyke van gekruisigde kriminnele, vuilgoed en as van Jerusalem weggegooi is – hulle vullis stortingsterrein dus (Jer.31:40).

Ons kan onsself tereg afvra, waarom hierdie “see van bloed”? Dit was nodig vir een enkele rede, nl. om te besef dat sonde die stort van bloed benodig.
• Ons moet egter ook besef dat bloed op sigself nie vergifnis of versoening bewerkstellig nie.
• Wat hierdie Ou Testamentiese offerstelsel dus wel vir ons wys, is dat sonde, die dood vereis en daarom lei dit tot die dood ~ “Al die mense behoort aan My, vaders en kinders is Myne. Dit is die mens wat sondig wat sal sterf” (Eseg.18:4).

Die aanbidders onder die ou verbond het dus besef:
• Dat alle offers gepaard moes gaan met ’n gees van bekering – offers moet dus lei tot bekering.
• Dat die aanbieder van ’n offer, steeds by God moet pleit om genade. Ons weet egter ook dat die aanbidders onder die ou verbond, wel geglo het in ’n ewige lewe, vergifnis en reiniging, máár ons sien ook in v.15 dat die ou verbond en die offers van die ou verbond nooit hierdie dinge kon skenk nie. Dit kon net sonde wat onwetend begaan is, vergewe (Hebr.9:7); dit kon nooit aan die mense ’n skoon gewete skenk nie (Hebr.9:9).
• Hoe is hulle gered en was almal onder die ou verbond gered? Die kort antwoord hierop is dat slegs diegene wat deel was van die ou verbondsvolk van God én wat “vooruit geglo” het in die geprofeteerde en volmaakte offer van die komende Messias, gered is en dit was die enigste gronde waarop die Ou Testamentiese Jode (al was hulle God se volk genoem) gered kon word – Jesus Christus die volmaakte Lam van God! Die ware gelowiges onder die ou verbond het dus besef dat ’n volmaakte Aanbieder van ’n finale offer aan die kom was (sien bv. Ps.22 en Jes.53).

4. ’N REGSDOKUMENT:
Met dit nou alles in gedagte, sien ons dat v.15 begin met die woord “daarom” en dit verwys natuurlik terug na dit wat ek so pas gedeel het en die skrywer gaan nou, met dit alles in gedagte, voort en vestig ons aandag op Christus, die Aanbieder van ’n beter offer.

Die Hebreërskrywer wil hierdie hele kwessie van redding wat ook beskore was vir mense uit die verlede en wat vooruit gekyk het na Christus, aan die hand van ’n testament verduidelik. Hy verduidelik dan aan ons in vv.16-17, dat solank die testateur (die persoon wat die testament maak) nog lewe, kan hy na goeddunke en net wanneer hy wil, veranderings aan die testament aanbring. Solank hy lewe, beskik die testament dus oor geen regsgeldigheid nie, maar die oomblik as hy sterf, verander die “prentjie” dramaties. Dan is hierdie testament ’n regsdokument wat afdwingbaar is en geen veranderinge kan meer aangebring word nie. Hoe word ’n testament wat vir lank nutteloos was, van krag? Die oomblik as die testateur sterf. Dit is sy afsterwe wat al die voordele van die testament, van krag laat word – en niks kan dit verander nie.

Jesus het “in die ewigheid terug”, so ’n ooreenkoms met die Vader aangegaan. Al Christus se beloftes vir Sy nageslag word van krag, die oomblik as Hy sou sterf. Die testament het o.a. beslis, dat ál Christus se kinders wat in Sy testament vermeld word, se skuld ten volle betaal sal word uit Sy erflating en dat hulle o.a. ook die ewige lewe sal beërwe. Dit is waarom Paulus in 2 Kor.8:9 sê ~ “Julle ken die genade van ons Here Jesus Christus: hoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword, sodat julle deur sy armoede ryk kon word.” Al hierdie is en was onmoontlik as Christus Jesus nie gesterf het nie….maar Hy het!

5. VERGIFNIS VEREIS BLOED:
Wanneer ons na vv.18-22 kyk, vind ons ’n tweede rede waarom Christus moes sterf, want vergifnis het die stort van bloed vereis. Ons kan nou vra, maar waarom was dit nodig? Waarom al die bloed? Waarom Christus se bloed? Ten einde dit te beantwoord, moet ons terugkyk na die instelling van die verbond met Israel wat destyds op die berg Sinaï plaasgevind het en daar was die stort van bloed ’n baie prominente element.

Ons vind in Eks.24 ’n volledige weergawe van die gebeure daar. Die volk het reeds die Tien Gebooie ontvang (Eks.19,20) en dan gebeur die volgende (Eks.24:5-8) ~ “Hy het toe van die jong Israeliete gestuur om bulle as brandoffers en maaltydoffers vir die Here te offer. 6Moses het die helfte van die bloed in bakke gehou en die ander helfte op die altaar gesprinkel. 7Hy het die verbondsboek geneem en dit vir die volk voorgelees. Hulle het gesê: “Ons sal alles doen wat die Here beveel het en daaraan gehoorsaam wees.” 8Moses het toe die bloed gevat en op die volk gesprinkel terwyl hy sê: “Dit is die bloed van die verbond wat die Here op grond van al hierdie gebooie met julle gesluit het.” Al hierdie bloed wat gestort en gesprinkel was, het plaasgevind om die volk daaraan te herinner, dat die gevolg van sonde, die dood is – die bloed van die offerdiere was dus ’n simbool – ’n teken en dit dui vir ons op die erns van sonde – sonde bring vyandskap tussen God en mens. Aan die anderkant is bloed egter ook simbool van ’n prys wat betaal word ten einde vergifnis te ontvang.

Die gebruik van bloed as simbool van dood wat volg op sonde, is ’n algemene prentjie regdeur die Woord, so het Jesus bv. die aand voor Sy dood, die volgende gesê ~ “…want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes” (Matt.26:28). Jesus het dus die nuwe verbond op dieselfde wyse as die ou verbond bekragtig – deur die stort van bloed! Wat belangrik is om in gedagte te hou, is dat dit nie Jesus se bloed is wat ons red nie, maar Sy dood – Sy dood wat Hy namens ons gesterf het en hierdie dood van Jesus word gesimboliseer deur Sy bloed wat Hy gestort het.

Net om te bevestig dat bloed net ’n teken was en nie die “reinigingsmiddel” self nie, is daar bv. onder die ou verbond, voorsiening gemaak vir armes wat nie kon bekostig om selfs ’n klein offerdiertjie te bring om geoffer te word nie ~ “As twee tortelduiwe of twee ander duiwe bo die persoon se vermoë is, bring hy as offer vir sy sonde twee kilogram meel as sondeoffer. Hy gooi nie olie daarop nie en sit nie wierook bo-op nie, want dit is ’n sondeoffer” (Lev.5:11). Meel was derhalwe ook aanvaarbaar om ’n arme se sonde te bedek – dit is dus nie die bloed wat vergewe nie, maar Christus se dood – die bloed (of dan die meel in Lev.5 se geval) is bloot net die teken of simbool van Christus se soendood aan die kruis. Ek moet egter ook dadelik byvoeg, dat die “Lev.5-meel” die enigste uitsondering was en dat ons nie nou maar enige “voorwerp” kan aanvaar of gebruik as simbool nie – dan is ons Rooms in ons optrede. Nee, bloed is die teken en die meel het heengewys na offerdiere se bloed wat as simbool gedien het vir die armes. Die beginsel bly dus vasstaan – sonder die stort van bloed, kan daar nie vergifnis wees nie.

Geen mens (ook nie een van ons nie) kan ooit, op eie meriete en eie poging, in die teenwoordigheid van God te staan kom nie. Die enigste weg tot geregtigheid; die enigste wyse om in God se teenwoordigheid te kan staan; die enigste manier om deel te wees van die nuwe verbond, is deur die soendood van Jesus Christus en dit word bekragtig wanneer ons in Hom glo en ons, ons vertroue in Hom plaas as Redder en Verlosser.

God se standaarde (sy reëls) is eenvoudig: sondig ons, sterf ons, maar as ons gered word, sál ons gered word deur die offer wat Jesus Christus gebring het. Vir hierdie offer is daar geen uitsondering nie; geen ander plaasvervanger nie, want dit is die enigste voorwaarde wat God gestel het vir redding en verlossing – vir geregtigheid – daar is geen ander wyse nie; geen ander weg nie – net Jesus Christus se soendood aan die kruis en dit is wat die Vader vir ons gegee het – Sy enigste Seun as offer!

6. CHRISTUS SE BETER OFFER:
Nadat die Hebreërskrywer vir ons die belangrikheid van bloed en dood tydens die ou verbond en dan spesifiek tydens die inwyding van die Tabernakel beskryf het, gaan hy nou voort in vv.23-24 en hy beskryf vir ons die onoortreflike effek; die volmaaktheid van Christus se offer, asook die voordele toe Hy die nuwe verbond van stapel gestuur het:
• Hy begin deur te sê dat Christus se offer, “beter en volmaakte reiniging” tot gevolg het. Hy verwys in v.23 na “…die hemelse dinge” wat gereinig word deur Christus se offer en hierdie hemelse dinge is niks anders as diegene wie in Hom glo nie! Ons word gereinig deur Christus se offer. As ons na Eks.24:6 sou kyk, sal ons sien dat die Tabernakel gereeld gereinig moes word deur die besprinkeling van bloed – net so ook God se kinders, maar met dié verskil – die Tabernakel moes gereeld besprinkel word, terwyl Christus se offer voldoende was om net eenkeer te besprinkel – en dit was genoeg; eens en vir altyd – Christus se offer was die beter offer – die volmaakte offer en die permanensie van hierdie reiniging was en is nodig, sodat God ’n permanente woning deur Sy Gees in elkeen van Sy kinders kon bekom (Ef.2:22). Dit is waarom Petrus ook in 1 Pet.2:5 na ons as gelowiges verwys, as lewende stene wat opgebou word “…tot ’n geestelike huis, om ’n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is.” Om hierdie geestelike huis te wees, was dit nodig dat Christus se bloed vergiet moes word ~ “Soos God die Vader dit vooraf bestem het, het Hy julle uitverkies en deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus” (1 Pet.1:2).

Die storting van Christus se bloed het tot gevolg dat ons aanvaarbaar vir God die Vader geword het – dat daar vrede tussen ons en Hom bewerkstellig is.
• Tweedens het Christus se bloedoffer tot gevolg dat Hy ons “volmaak kan verteenwoordig en intree” by die Vader – beter as wat enige aardse Hoëpriester dit ooit kon doen. Paulus verskaf hierdie volgende vertroostende woorde ~ “Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons” (Rom.8:34). Johannes ego hierdie woorde van Paulus in 1 Joh.2:1 ~ “Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie. En (ons kan ook sê, “maar”) as een van ons sondig—ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader.”
• ’n Verdere feit t.o.v. Jesus se beter offer, vind ons in vv.25-28 en daarin sien ons dat Sy offer “doeltreffend en volmaak effektief” was en daarom was en is dit nie nodig vir Hom om gedurig nuwe offers te bring nie – m.a.w. om Homself voortdurend te laat offer nie en dit was so doeltreffend, dat Hy voortdurend vir ons intree by die Vader (soos vantevore reeds gesien).

Jesus skryf by wyse van spreke, en in groot vetgedrukte letters: VIR EWIG VERGEWE!
• Laastens verskaf Christus se offer aan ons ’n beter hoop ~ “As Hy die tweede keer verskyn, kom Hy nie in verband met sonde nie, maar om verlossing te bring vir dié wat Hom verwag” (v.28b). Jesus kom weer en dan kom Hy nie om ons te straf, of om ons weer te vergewe nie. Nee, Hy kom om ons te kom haal, meer nog – Sy koms gaan die seël plaas op Sy offer wat Hy reeds gebring het.

7. TOEPASSING EN GEVOLGTREKKING:
Een maal per jaar, op die Groot Versoendag wanneer die hoë priester in die Allerheiligste in gegaan het om in die teenwoordigheid van God te verskyn, het die volk rondom die Tabernakel vergader en asem opgehou om te sien of die hoëpriester lewend uit die Allerheiligste sou kom (van die teenwoordigheid van God af) en wanneer hy uitgekom het, het hulle ’n sug van verligting geslaak. Sy verskyning het aan die volk die boodskap gekommunikeer, dat sy offer wat hy namens hulle aan God gebring het, deur God aanvaar is.

Ons Here Jesus Christus het egter ook die hemelse Allerheiligste binnegegaan, nadat Hy Sy lewe geoffer het en Hy uit die dood opgestaan het, waar Hy namens ons, in die woorde van v.24, voor God verskyn – lw. Hy was nie in die teenwoordigheid van God en toe het Hy weer “uitgekom” nie. Nee, Hy is steeds daar en Hy sal vir ewig daar wees – waarom? Omdat Sy offer finaal en afgehandel is, terwyl die aardse hoëpriester se offer nooit finaal en afgehandel was nie. Ja, Christus gaan wel weer verskyn en terug kom na ons toe, maar nié om maar net weer ’n jaar later na die Vader te gaan met ’n nuwe offer nie, maar om ’n finale en ewige verlossing vir ons te bring – vir ons wie op Hom gaan wag (v.28).

Daardie dag van Christus se wederkoms, gaan ’n onbeskryflik wonderlike dag wees, want dit gaan die finale voltooiing, of vervolmaking wees van God se verlossingsplan vir ’n verlore mensdom. Wat se groter en beter en wonderliker hoop kan die mens hê, as juis dit! Ons kan ons nie indink in hoe wonderlik dit gaan wees nie! Ons kan ons nie indink in die omvang en die grootsheid van die vreugde en heerlikheid wat ons gaan ervaar nie! Ons kan maar net elke dag van ons lewe daaraan dink en voortbeur na daardie oomblik toe en in die proses moet ons Jesus Christus dank en eer, omdat Hy dit vir ons moontlik gemaak het.

Ons gaan hemel toe! Ons gaan hemel toe! Christus gaan ons kom haal, maar ons moet ook onthou dat niemand sonder Hom daarheen kan gaan nie en daarom moet ons mense wat nie oor hierdie wonderlike hoop beskik nie, van Jesus Christus vertel en van Sy offerbloed wat ook vir hulle gevloei het!

Post a comment